ERENE OBERHOLZER
Tien jaar en vyf albums later, groet die bekende afrikaanse groep, Zinkplaat vir eers hulle bewonderaars. Zinkplaat het vanjaar op 11 April in Pretoria as deel van hulle laaste toer en bekendstelling van hulle nuwe album, Retrospekulasie opgetree. Bertie Coetzee, Beer Adriaanse, Basson Laubscher en Beitel van der Merwe het met Perdeby oor die afskeid gesels.
Hoe voel julle oor die afskeid van Zinkplaat? Bertie: Gemengde gevoelens, dink ek. Ek bedoel 10 jaar is `n lang tyd en dit het maar gebeur dat ons nou gaan ophou, maar ons is amped oor die album en hoop hy doen goed en ook amped oor die show vanaand.
Beitel: Dit het nog nie lekker ingesink nie. Ons het nog ses of sewe gigs oor, ek dink ons fokus nou eers daarop.
Basson: Ek dink dit gaan bad wees by die laaste show.
Julle het `n merkwaardige merk in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak. Hoekom het julle besluit om Zinkplaat te be-eindig? Beer: Dis tien jaar, dis `n dekade, dis `n mooi ronde getal. Bertie het `n plaas wat roep, Beitel het `n loopbaan in die regte wat roep, Basson het `n sideproject wat roep en ek [het `n] paar fliek goeters. En ons moet een of ander tyd opbreek sodat ons kan reunite.
Wat is vir julle spesiaal of uniek aan julle laaste album, in vergelyking met julle vorige albums? Beitel: Ons het lank geweet dit gaan die laaste een wees, so op `n manier het dit `n oefening geword waar ons terug kyk na die laaste tien jaar. Dis ook waar die naam vandaan kom, Retrospekulasie. Daardie tien jaar gaan so vinnig verby, mens probeer nog so half sin maak daarvan. Ek dink dis wat dit anders maak.
Beer: Daar is elemente van al ons albums en ook iets nuuts.
Eendag as julle in die ouetehuis is en terugdink aan julle dae as Zinkplaat, wat sal julle nooit vergeet nie? Bertie: Die crazy toere en die slaap sonder enige iets langs die Weskus. Die wyn bootleg uit `n trok uit met `n klomp vriende, sonder enige beplanning.
Basson: Ek dink die feit dat dit op `n weird manier uitgewerk het sonder dat daar `n plan was. Dit sal altyd nogal uniek wees. Ander mense beplan `n ding, ons gaan net soos dit kom.
Beer: Ons het definitief plekke gesien wat ons nooit op ons eie sou sien nie.
Wie was vir julle die mees opwindendste sangers/bands om saam mee op te tree? Beitel: Tidal Waves. Ons het saam met hierdie band, Die Helde, ook opgetree.
Beer: Ek het van Foto na Dans ook gehou.
Basson: Toe ons begin sing het, het ons saam met Die Melktert Kommissie en Klopjag begin sing.
Beer: Ja , hulle is tydgenote van ons.
Basson: Ons het altyd lekker saam gehang.
Watter raad sal julle gee aan opkomende bands in Suid-Afrika? Beer: Jam net! Almal sê vir ons daar is nie meer bands nie. Orals waar ons kom vra ons vir mense wat is nuut in die dorp en dan is daar niemand nie.
Beitel: Moenie copy en paste musiek maak nie. Originality is wat vir jou sal onderskei van ander.
Julle het saam met Sanlam en Litnet die Sing ‘it kompetisie gedoen. Hoe was hierdie ervaring? Beer: Dit was lekker en `n uitdaging. Ons het nog nooit ander mense se lirieke gebruik nie. Dit was moeilk om deur al daai lirieke te gaan,
Bertie: Ons het 600 inskrywings gehad. Jou brein kan later nie meer inneem wat is goed en wat nie.
Basson: In `n weird manier het dit ons krities na ons eie lirieke laat kyk. As mens dit self skryf dink mens nie altyd so objektief daaraan nie.
Waar sien julle julleself oor die volgende tien jaar? Bertie: Ek sien myself op `n baie volhoubare plaas besig om biologies te boer. Lekker beeste, visvang, jag.
Beitel: Ek dink oor tien jaar sal ons nog saam speel, êrens in `n jaar sal ons bymekaar kom en dan bietjie te jam.
Basson: Ek sien myself op `n verhoog êrens.
Photo: Hendro van der Merwe