You don’t get to quit: The Narrow is terug

by PDBY Staff | Mar 29, 2010 | Entertainment

MINNETTE NIEUWOUDT

Op die derde dag van die derde maand 2010 het Hanu de Jong, voorsanger van The Narrow, 33 geword. Om sy verjaarsdag te vier, het die groep hul derde vollengte studioalbum getiteld You Don’t Get to Quit, bekendgestel.

De Jong is al 15 jaar in die musiekbedryf en Perdeby het die kans gekry om by die bekendstelling van die album in Pretoria met hom te gesels. In drie woorde beskryf hy die album as rou, powerful en “The Narrow”. Nie heeltemal drie woorde nie, maar naby genoeg. Volgens De Jong het hulle gepoog om ‘n album te skryf wat oor jare steeds relevant sal wees. Die boodskap is “druk deur” en word weerspieël in lirieke soos: “We are the leaders, the soldiers and the war / We are the victims, the dreamers and the poor” vanuit die liedjie “We Are”.

Volgens De Jong het hulle probeer om die nuwe album so na as moontlik aan hul live sound te laat klink. Dis goeie nuus vir al hul aanhangers, omdat The Narrow bekend is vir die energie wat hulle na die verhoog toe bring.

Die waarheid is egter dat niks naby hul live show kan kom nie, ook nie hierdie album nie. Alhoewel You Don’t Get to Quit ‘n hele paar catchy liedjies op het (die titellied byvoorbeeld) kort dit egter daardie ietsie ekstra. Dit is soos om ‘n draairoomys by Steers te koop en nie ‘n flake in te kry nie: steeds verfrissend, maar nie heeltemaal bevredigend nie.

Doen liewer die moeite om een van The Narrow se opvoerings te beleef – hulle is op 25 Maart by Tings ‘n Times. Die album op sy eie gaan jou egter net op die drumpel van bevrediging agterlaat.

Website | view posts