Wys my jou lyf: Die versteekte kuns van lyftaal en hoe om dit te lees

by PDBY Staff | Feb 23, 2011 | News

CHRIS VAN DER MERWE

 

Josheph R. Plazo, die skrywer van Ph.D of Persuasion sê: “Die menslike liggaam wys hoe `n persoon voel. Niemand sê ‘ek bewe van vrees’ nie. Sy liggaam doen dit outomaties om te wys dat hy inderdaad bang is. Die menslike liggaam onthul meer as net voor die hand liggende emosies. Dit doen soveel meer.” Meeste mense slaan nie veel ag op lyftaal nie en kies om dit eerder te sien as `n onkeerbare reaksie van die senuweestelsel. Vandeesweek kyk Perdeby na die subtiele kuns van lyftaal lees en hoe om te kommunikeer met jou liggaam.

Meeste van ons sien verbale kommunikasie as die hoof medium van inligting oordra tussen mense en ook die enigste een wat saak maak. Ons dink nie aan hoeveel ander vorme van kommunikasie daar eintlik, versteek in die menslike liggaam, bestaan nie. Gelukkig vir ons lui mense, is daar dié wat die tyd geneem het om daaroor te dink. Mario Pei, Italiaans-Amerikaanse talekenner, het bepaal dat mense tot 700 000 verskillende lyftaaltekens te voorskyn bring. Ray Birdwhistell, `n Amerikaanse antropoloog, het beraam dat die menslike gesig in staat is om meer as 250 000 uitdrukkings te toon.

Die statistieke rakend menslike kommunikasie wat die meeste uitstaan is te vind in `n studie deur Albert H. Mehrabian, rustende professor by die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, wat hy gedoen het in die laat 1960’s tot die vroeë 1970’s. Volgens hierdie studie dra jou woorde 7% van jou boodskap oor, jou stemtoon 38% en jou lyftaal 55%. Dit beteken dat meer as helfte van die boodskap wat jy oordra aan ander mense, doen jy deur jou gesigsuitdrukkings en algemene liggaamshouding.

Teen die tyd is dit redelik vanselfsprekend dat lyftaal nie doelloos is nie. Lyftaal het egter verskeie gebruike in die hedendaagse samelewing. Lyftaal is `n direkte plaasvervanger vir woorde, wat dowe mense in staat stel om met mekaar te kommunikeer op `n persoonlike vlak. Lyftaal dien as `n versterking vir jou woorde, wat jou in staat stel om jou woorde meer te beklemtoon. Lyftaal wys ook hoe die persoon voel, emosies soos hartseer en woede kan gesien word aan `n persoon se lyftaal as jy dit kan opmerk. Met dit in ag geneem, is dit geen wonder dat daar hordes mense is wat op soek is na vinnige, maklike en gratis maniere om lyftaal te bemeester en sodoende die wêreld oor te neem met hul lyftaalkennis nie.

`n Mens se liggaam onthul soveel meer inligting oor die persoon as wat mens aanvanklik dink. Jou outoriteit en selfvertroue is van die makliker dinge wat deur jou lyftaal opgemerk kan word. Lyftaal lees gaan alles oor goed opmerk wat die blote oog net eenvoudig nie kan opmerk nie. Byvoorbeeld, as jy iemand se hand skud, kyk jy of jou hand of die ander persoon se hand bo is? As jou hand bo is wys dit dat jy selfvertroue het en nie bang is nie. Baie in dieselfde manier wanneer jy met iemand praat en jy staan met jou hande op jou heupe, wys dit dat jy belangstel in wat gesê word, maar jy is nie in beheer van die gesprek nie. `n Geslote stand met jou arms gevou, toon dat jy nie eintlik luister of belangstel in wat gesê word nie.

Die menslike liggaam is vol geheimsinnige tekens. Leuens kan ontken word, outoriteit kan gestig word en een mens kan die ander se persoonlikheid opsom slegs deur sy lyftaal te lees. Hierdie kuns van lyftaal lees en bemeester is verseker `n onderskatte kuns, maar dit gaan ook nou nie vir jou bomenslike kragte verskaf nie. Dit gaan dalk jou net `n beter kans gee met die teenoorgestelde geslag, alhoewel dit jou ook nie oornag in Johnny Depp gaan verander nie. Alles in aanvaarbare mates, niks hals oor kop nie. Gaan speel nou met jou nuutgevonde kennis.

Illustrasie: Hanro Spangenberg

Website | view posts