DAVID STEYN
Wortematie, deur Theunis “Wortel” Strydom, is die eerste sogenaamde “studenteroman” in Afrikaans en is ook Strydom se eerste gepubliseerde roman. Dit speel af in Stellenbosch en alhoewel daar gesê word dat alle karakters en gebeure in die boek fiktief is, kan mens nie help om te wonder of dit nie tog `n outobiografiese werk is nie. Is dit dalk `n komiese vertelling van die skrywer (self `n gewese student op Stellenbosch) se eie ervaringe op universiteit? Die roman handel oor Wortel, `n student op Stellenbosch en hoe sy lewe verwoes word deur `n vraagteken, `n huisdans, `n ekonomietoets en `n rugbywedstryd. Tussen alles is Wortel en sy koshuismaats besig om mekaar strepe te trek, te swot en om sinneloos te gesels. Dit handel ook oor wat dit behels om `n Matie te wees. Die boek is `n informatiewe en akkurate weerspieëling van hoe koshuis- en studentelewe (op Stellenbosch en oor die algemeen) eintlik is. Terwyl die verloop van die roman soms eentonig raak en dwaal, kry die skrywer dit reg om die leser se aandag te hou. Met droë woordspelings en skerp, ongewone vergelykings sal Wortematie jou definitief hardop laat lag. Die skrywer slaag ook daarin om die verwikkelinge en komiese gebeure so oor te dra dat die leser dit maklik kan insien. Dit is maklik om met die karakters te identifiseer, omdat hulle alledaags is en reeds aan die begin van die boek op `n interessante manier aan die leser voorgestel word. Wortematie is selfs al met die suksesvolle Spud vergelyk. Enige iemand wat op universiteit is (of was), sal hierdie unieke roman geniet. Ons hoop om nog boeke uit Theunis Strydom se pen te sien. Sien die Wortematie ‘trailer’ pPerdeby748f.
BEVINDING: 7/10
Perdeby gee `n kopie van Wortematie weg aan die eerste persoon wat die naam van die skrywer aan @perdebynews tweet.
Illustrasie: www.watkykjy.co.za