LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN
Twitter is in 2006 geskep en in dieselfde jaar van stapel gestuur. Dit is al met Facebook vergelyk, maar gesoute Tweeters sal weet dat dit baie eenvoudiger en vinniger is om te gebruik. Urbandictionary.com beskryf Twitter as, onder andere, “`n plek vir pedofiele en mense met swak konsentrasievermoë”. Elma Smit, televisieaanbieder en 5FM DJ, meen egter: “Twitter is ongelooflik waardevol vir enige iemand, want jy kan mense en brands volg na aanleiding van jou belangstellings en sodoende seker maak dat jy op hoogte bly van dit waarin jy belangstel.” Perdeby (@perdebynews) het plaaslike tweeters uitgesoek wat jou Twitter-tydlyn sal opkikker.
@headlinepayoff
Die kanse is goed dat jy nog nie van Headline Payoff gehoor het nie. Dit is moeilik om presies vas te stel waaroor Headline Payoff gaan, maar hulle beskryf hulleself as die “cheesiest, most chocolatey piece of word-sexy you’ve ever experienced in your life-tumbler”. Paul White, medeskrywer van Headline Payoff, is verantwoordelik vir die Twitter updates wat jou op jou tone sal hou.`n Onlangse tweet lui: “Just got some banana Steri Stumpi on my nipple and it looks like my chest did a wee!” Nou ja, daar het jy dit. Informatief.
@BigConcerts
Big Concerts het onder andere vir U2 en Rammstein tot op jou voorstoep gebring. As Big Concerts nie op jou volglys is nie, dan weet jy seker nogsteeds nie dat Kings Of Leon se optredes tot Oktober uitgestel is nie. Big Concerts hou hul volgers op hoogte van vertonings, kaartjieverkope, goeie parkeerplek en selfs watter roetes die gerieflikste sal wees om te neem oppad na ‘n vertoning. Vreeslik behulpsaam.
@PretoriaZA
Aardverwarming en sprake van die einde van die wêreld krap die weer deurmekaar. Pretoria is een oomblik nog perfek vir drankies op die dam en die volgende oomblik lyk dit asof `n orkaan gaan losbars. Weervoorspellings op Twitter? Geniaal. Die weerstoestande word van die oggend tot die aand opgedateer. Wat is geriefliker as dit? Nou sal jy voorbereid kan wees vir reën, son, wind en vloede.
@JIPcoza
Jip benut die limiet van 140 karakters ten volle. Jip tweet oor plaaslike en internasionale stories, kompetisies waar jy kaartjies na vertonings kan wen en selfs oor webtuistes waar gratis musiek afgelaai kan word. Jip is interaktief met hul volgers en vra gereeld vir opinies oor stories of antwoorde op vrae. Dit is definitief die moeite werd om Jip se Twitter-blad dop te hou, want jy kan dalk net een of ander prys wen.
@TIME
Time is nou nie plaaslik nie, maar dit is beslis goed as jy wil weet wat in die wêreld aangaan. Perdeby aanvaar dat almal nie nuus kyk of koerant lees nie, maar hierdie is `n goeie opsie om op hoogte van sake te bly via Twitter. Time dek nuus van regoor die wêreld en hulle tweet-tydlyn staan nie sommer stil nie. Met meer as twee miljoen volgers op Twitter, wat Beeld, Perdeby en Piers Morgan insluit, is daar geen vinniger manier om op hoogte van die nuutste nuus te bly nie.
@watkykjy
Dalk weet jy nie wie of wat WatKykJy is nie. Vir die konserwatiewes wat nie hul siele wil versondig nie, hou dit so en bly weg. Griffin is die man agter WatKykJy. Hy is zef, openlik platvloers en die gebruik van krastaal is aan die orde van die dag op die WatKykJy webtuiste. Nou tweet Griffin ook sy siel weg. Griffin tweet oor alles rakende Afrikaans, nuus, musiekvideo’s en allerhande ditjies en datjies. Griffin is op die voorpunt van wat in Suid-Afrika aangaan, maar net as hy dit in zefstyl kan doen.
Illustrasie: Hanro Spangenberg