CHRIS VAN DER MERWE EN JP NATHRASS
Die Tuindwergies het onlangs hulle nuwe album Terwyl Die Donker Wolke Dans by Firkin Centurion vrygestel. Saam met die vrystelling het hulle ook `n wêreldrekord opgestel vir die meeste Jagermeisters (1014 shots) wat in een sekonde gedrink is. Perdeby het meer oor die nuwe album en hierdie rekord uitgevind.
Julle eerste album, Tuisgekweek, was `n groot kommersiële sukses. Het julle dit moeilik gevind om `n nuwe album te skryf wat op dieselfde vlak as die eerste een is of om die standaard nog hoër te lig?
Pieter: Ek dink wat lekker was, ons het nogal ons tyd gevat met die tweede album. Ons het nie gerush nie. So ons het elke song gaan uitwerk en toe ons gevoel het ons het genoeg songs vir die CD het ons dit gaan opneem. Ek dink dit het baie gehelp met daai proses, want obviously keep jy dit in mind, jy wil `n beter produk uitbring as die eerste album.
Jean: Ons het almal musically verbeter. Soos Pieter en Emile met hulle songwriting en die res van die band met ons playing. Ons het almal in musiek mature. Dit was `n natuurlike groei.
Sou julle sê dat julle skryfstyl en die kreatiewe proses wat julle ondergaan het om die nuwe album te skryf anders was as die van die vorige album?
Emile: Ons het rehearse voor ons studio toe gegaan het so ons het eintlik baie min tyd fisies spandeer aan die album, omtrent so tien dae met die recording en nog so sewe dae met die mixing en mastering. So dit was meer die opbou na die studio toe.
Emile: Die vorige een het ons gesit en kop, werk dit nou? Ag kom ons vat nog so ses maande. Ons was nege maande besig met daai album, hy het net nie klaar gekom nie. Dieselfde songs drie keer record – toe ons dit eventually record vir die album was ons so gatvol vir die tunes. Ons was net soos dammit, kan ons nie net `n nuwe album doen nie, maar ons het nie genoeg songs gehad nie. Met dié album het ons darem onsself daai frustrasie gespaar en ingegaan en geweet wat ons moet doen.
Het die songs wat julle al oor en oor gespeel het en live by elke show speel nog dieselfde betekenis vir julle of is dit meer van `n crowd pleaser?
Emile: Dis nog lekker, daar’s `n paar wat ons nog like om live te speel, eintlik die hele CD, maar “Soos sy sê” en “As jy val” ons geniet daai songs baie.
Pieter: As mens daai songs speel en die mense sing saam, maak dit elke keer die moeite werd. Dis darem lekker, ek dink as ons elke keer gespeel het en net krieke gehoor het was dit bietjie k*k.
Deur die loop van al julle toere regoor die land, wat sou julle sê was die snaaksste storie wat julle al op die pad ervaar het?
Pieter: Ons het een keer gespeel by `n fees, die dwergiefees in Standerton, en terwyl ons show aan die gang was, het hulle `n jelly wrestle match met midgets en toe kom kyk niemand ons show nie.
Emile: Midgets wrestle. Wie gaan die Tuindwergies kyk as daar midgets wrestle?
Emile: Ons het moerse rockstar gevoel na die straatfees in Stellenbosch en terwyl Jean besig was om die trailer te haak, het daar `n meisie aangehardloop gekom en sy kon skaars asem haal: “Dis Die Tuindwergies, kan julle vir my iets teken?” Ons is toe moerse kalm en ons teken dit vir haar en klim terug in die kar en ry. Na so kilometer gaan ons oor `n hobbel en ons kyk terug en kom agter die trailer is nie daar nie. Jean het nie eers die safety chain opgesit nie, ons het die plug los gery en die trailer en die meisie staan toe nog daar en wag.
Pieter: Hero to zero in tien minute.
Vanaand gaan nie net oor die albumvrystelling nie, daar is ook die wêreldrekord wat julle probeer om te breek. Hoe het hierdie idee ontstaan?
Emile: Hannes, ons manager, het snaakse idees maar dit werk gewoonlik.
Pieter: Ons is geborg deur Jager. So hulle het vir ons 1000 shots gegee. Dis 25 liter. So as jy more `n hangover het, sê dankie vir die Jager.
Jean: Ons wil mense geïnteresseerd hou en vir hulle memories skep en dat hulle dit onthou en die is `n epic event vir almal wat hier is.
Pieter: En Die Tuindwergies was van die begin af oor having fun.
Indien julle graad sewe onderwyseres julle môre raakloop, wat dink julle sal sy van julle sê?
Ek dink hulle sou ook hier wou wees, almal hou daarvan om te party. Hulle hou hulleself verniet so onskuldig.
Julle het almal in bands gespeel voordat julle Die Tuindwergies gevorm het. Watter rol het dit gespeel in die kunstenaars wat jul nou geword het? Sou julle sê dat dit in julle guns getel het?
Jean: Ek dink dis die feit om meer gemaklik op stage te wees. Want jy stap nie net die eerste keer op die stage en jy is gemaklik nie. En ook om al voorheen musiek te gemaak het dink ek gee jou `n sense of maturity as musikant, jy kan hoor die ou het al gespeel. Nie dat ek sê ons dink baie van onsself nie. Jy kan net hoor die ouens weet wat hulle doen.
Pieter: Al die bands wat ons al in gespeel het was lekker om in te speel, hierdie is `n nuwe ding en dis ook lekker. Maybe oor ses jaar kry ons weer iets anders en is dit ook lekker. Maar ek dink die lekker ding van die dwergies is darem dat ek dink ons sal nie ophou nie. Dis wat ons doen, nie dat ons nie ander goed ook sal doen nie. Ons is nie gebonde nie, elke ou kan sy eie ding ook doen.
Is die band vir julle soos `n 24/7 werk of het julle ander day jobs wat julle doen?
Jean: Ons almal is besig met ander goed, maar nie een van ons het regtig `n day job nie, behalwe Dawie [baskitaarspeler], hy het `n orgideë besigheid. Verder doen ons net musiek. Emile doen sy eie shows en Naas ook. Ons almal probeer onsself maar besig hou in die musiekbedryf.
Wat sou julle sê is die hoogtepunt van julle musiekloopbaan tot dusver?
Vanaand!
Emile: Ons het `n flippen cool show gespeel een keer by die FORR Festival in Mosambiek. Ons het almal so half onkant gevang. Ons het drie dae voor die tyd al by die kampterrein gebly en net gekuier en lekker in die vibe gekom en toe die mense daar is toe klink ons sommer soos `n Mosambiekse band. Dit het vir hulle regtig bietjie foreign geklink.
Jean: En ons eerste Oppikoppi was ook baie lekker gewees, want ons was nie regtig gewoond aan `n groot crowd nie.
Julle nuwe snit, “Golwe”, is glo oor aardsverwarming en omgewingsbewustheid. Sou julle julself as aktiviste vir die omgewing bestempel?
Emile: Ja, in `n baie onbewustelike en subtiele manier. Dis nie in iemand se keel af forseer nie. Dis meer `n individu se manier om te dink daaroor. Dit was vir my toepaslik toe ek dit geskryf het vir die Tuindwergies, dit connect nogal met die naam.
Pieter: Ek dink ons sal nog meer daar wil ingaan, maar op die stadium is ons nog nie green peace of tree huggers nie.
Emile: Ek dink op die stadium is dit nog op `n klein vlak, maar dit sal cool wees om later `n groter deelname te kan hê in daai tipe van goed.
Pieter: Jy kan elke jaar `n hok by die SPCA sponsor en ons het nou een daar.
Enige planne om moontlik uit te brei na `n oorsese mark?
Pieter: Dis nou nie oorsee nie, maar ons speel die jaar Namibië en Mosambiek en ons wil definitief bietjie België en Holland doen. En ek dink ons wil baie graag Australië en Nieu-Seeland ook doen. Maar dis `n duur storie, dis nie net op die vliegtuig klim en gaan nie.
Sien die “Golwe” video by Perdeby7413d of perdeby.co.za.
Foto: JP Nathrass