ELAINE SWANEPOEL
Die eerste week van die Septembervakansie sal vir altyd onvergeetlik vir Klaradyn en Olienhout bly. Hierdie twee koshuise het besluit om die strate van Stellenbosch aan te durf en hulle het omtrent die dorp op horings geneem.
Hulle het per trein na Stellenbosch gereis en onderskeidelik in Paul Roos Gimnasium en Helshoogte Koshuis tuisgegaan.
Op 23 September het die opgewonde studente by Johannesburgstasie op die trein geklim. Agt-en-twintig uur en verskeie kaste drank later het hulle by Stellenboschstasie aangekom. Klaradyn, moeg en vuil, moes hoor dat die bus wat hulle na Paul Roos sou neem, nie opgedaag het nie. ‘n Paar het beangs na selfone gegryp om vriende vir ‘n lift te bel, terwyl ander hulself vir ‘n lang staptog reggemaak het. Tot almal se verligting het die bus ‘n paar minute later opgedaag.
Toe was dit tyd vir groot kuier en hulle het sommer dieselfde aand nog Stellenbosch se kuierplekke gaan verken.
Wynproe was die volgende oggend op Klaradyn se agenda. By Beyerskloof en Simonsig het die meisies geleer presies hoe om tussen ‘n Sauvignon Blanc en ‘n Chardonnay te onderskei. Almal was redelik vinnig vrolik ná die wynproesessie op ‘n nugter maag en ‘n draai by Spur het baie aanloklik geklink.
Die program vir die res van die week het sowel kuiers met Stellenbosch se manskoshuise Helderberg, Wilgenhof en Majuba, as ‘n trip Canal Walk toe ingesluit. Watter meisie kan nou ‘n inkopie-uitstappie in die Kaap weerstaan?
Die Olienhoutmanne het bos gegaan en hulle nuutgevonde vryheid deeglik benut. Nodeloos om te sê het almal van hulle nie elke aand by Helshoogte geslaap nie …
Weens die feit dat dit hierdie tyd van die jaar nog so te sê winter in die Kaap is, was daar nie kans om strand toe te gaan nie. Die reisigers het egter hulle tyd goed benut deur nog ‘n paar wynplase te besoek en die omgewing te verken.
Dit was met swaar harte wat hulle ‘n week later weer op die trein terug na Pretoria geklim het. Elkeen het sy eie storie om te vertel, maar soos die woorde op Klaradyn se geel hempies vir die week tereg lui: “What happens in the ’Bos … stays in the ’Bos.”