Geografies gewys, is Suid-Afrika ‘n beeldskone land, met ons spierwit strande, ons asemrowende berge en verruklike bosveld. Al hierdie eienskappe is net ‘n paar van die vele ondervindings wat ‘n mens hier in die land kan beleef. Dit maak dit ‘n maklike en gewilde keuse vir jong buitelanders, veral van ons buurstate, om vir ‘n paar jaar hier te kom studeer en woon. Maar, van al die universiteite in ons land, waarom Tuks?
MARIĖ VAN WYK
Wanneer ‘n mens ‘n student is, begin jy vir die eerste keer regtig uitvind wie jy is en waarvan jy werklik hou. Dit is ‘n wonderlike tydperk in jou lewe waar jy met ‘n groot verskeidenheid mense te doen kry. Mense van verskillende kultuurgroepe; mense wat ander tale praat; mense met ander gewoontes, maniere en belangstellings as wat jy het. Maar meeste van ons het iets in gemeen: ons is almal Suid-Afrikaners. Ons deel ‘n verlede, ‘n hede en ‘n toekoms as burgers van hierdie land. Tog is daar ‘n persentasie studente wat by Tuks studeer wat nie Suid-Afrikaners is nie: internasionale studente wat saam met ons moet uitvind wie hulle is en wat hulle wil doen. Perdeby het gaan uitvind hoekom studente na sonnige Suid-Afrika toe kom en waarom Tuks hul universiteit van keuse was.
Geografies gewys, is Suid-Afrika ‘n beeldskone land, met ons spierwit strande, ons asemrowende berge en verruklike bosveld. Al hierdie eienskappe is net ‘n paar van die vele ondervindings wat ‘n mens hier in die land kan beleef. Dit maak dit ‘n maklike en gewilde keuse vir jong buitelanders, veral van ons buurstate, om vir ‘n paar jaar hier te kom studeer en woon. Maar, van al die universiteite in ons land, waarom Tuks?
‘n Moontlike rede waarom Tuks ‘n gewilde keuse kan wees, is dat dit volgens sekere aansysings as die vierde beste universiteit in Afrika gelys word. Volgens mnr. Ausiku, ‘n tweedejaar ingenieurswese- student en voorsitter van die Namibiese Studentevereniging, bied Tuks beter onderrig as wat hulle tuis sou kon kry – veral in ingenieurswese. Dit is waarom meeste van hul vereniging se 89 lede sou verkies om hier te kom studeer. In Tuks se poging om met internasionale universiteite te kompeteer, streef hulle ook steeds om plaaslik van toepassing te wees. Tuks het ook verskeie kultuur- en sportklubs en bied wêreldklas sportfasaliteite vir hulle studente aan.
Verdere redes kan ook wees dat Tuks ‘n goeie ondersteuningsnetwerk vir hul buitelandse studente bied. In die Kliëntedienssentrum (Hatfield-kampus) is daar ‘n hele afdeling vir die internasionale studente. Die afdeling bied inligting en ondersteuning vir uitruilstudente, studente wat oorsee wil gaan studeer, kuiergaste en diplomate. Hulle bied ook die Internasionale dag, wat jaarliks plaasvind, aan.Daar is ook verskeie verenigings op die kampus wat vir nuwe studente die geleentheid bied om hul landgenote te ontmoet en ‘n veilige hawe te skep waar hul hulle kultuur kan beoefen. Volgens Chinedu Chris Okonkwo, die voorsitter van die Nigeriese Studentevereniging, is die vereniging nie net daar om die Nigeriese studente by Tuks te ondersteun nie, maar ook die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Daarom neem hulle soms stappe om die minderbevoorregte mense in Suid-Afirka te help. “Dit is ons manier om dankie te sê vir al die geleenthede wat Suid-Afrika vir ons bied,” verklaar hy. Die Nigeriese Studentevereniging het meer as ‘n 110 lede en Okonkwo sê hulle kom studeer in Suid-Afrika omdat “Tuks die beste standaard onderrig in Afrika bied en daarin geslaag het om internasionale standaarde te bereik”.
Vir internasionale studente om by Tuks te studeer, moet hulle ‘n tydelike verblyf permit en ‘n studiepermit hê. ‘n Mens moet ‘n tydelike verblyfpermit in Suid-Afrika kry, maar jy moet aansoek doen vir ‘n studiepermit in jou land van oorsprong of by jou land se ambassade in Suid-Afrika. ‘n Buitelandse student moet ook dubbeld soveel vir die klasgelde betaal as wat Suid-Afrikaanse burgers betaal, weens die feit dat die staat nie help om die onkoste van buitelandse studente te dra nie.
Ross McChlery, ‘n tweedejaar BCom Ekonomie student wat van Zimbabwe af kom, sê dat hy Suid-Afrikaanse burgerskap het, maar omdat hy verkies om met sy Zimbabwiese paspoort te reis, moes hy aansoek doen vir ‘n studiepermit. Op die vraag waarom hy Tuks gekies het, antwoord hy: “Dit is naby aan die huis (jy kan ry), van my ouer vriende het ook hier kom studeer en ek hou van die gevoel en atmosfeer van Tuks.” McChlery sê ook dat dit glad nie vir hom moeilik was om in Suid-Afrika aan te pas nie, omdat die mense baie soortgelyk aan Zimbabwiërs is.
Perdeby het ook aan McChlery gevra hoe hy oor Suid-Afrika voel noudat hy hier woon en studeer.
Hy antwoord: “Suid-Afrika is soos my tweede huis, my aangenome land en ek het baie goeie Suid-Afrikaanse vriende gemaak tydens my studies hier by Tuks.”
Al deel ons nie ‘n verlede, of burgerskap, met ons medestudente uit die buiteland nie, deel ons ons hede en moontlik ook ons toekoms. Ons moet tóg almal ons plekkie onder die Afrika-son vind.