Die einde van 2011 is in sig en baie mense blaai deur die scrapbook en wens hulle kanterug keur na al die goeie tye. Daarom het Perdeby hierdie week besluit om terug te kyk na die dinge wat niemand gaan mis van 2011 nie.
MAGDALEEN SNYMAN
Die einde van 2011 is in sig en baie mense blaai deur die scrapbook en wens hulle kanterug keur na al die goeie tye. Die nuwe jaar lê soos `n onbekende berg voor jou en jy wil eintlik vasskop en nie toelaat om te verander nie. Daarom het Perdeby hierdie week besluit om terug te kyk na die dinge wat niemand gaan mis van 2011 nie en julle `n paar redes te gee om uit te sien na die onbekende.
Die vere maak die voël, maar miskien nie die uitrusting nie. Blompatrone en die 70’s het `n groot herlewing ervaar op die modefront, maar iets wat niemand gaan mis van hierdie jaar nie is die vere wat elke nou en dan kop uit steek op juwele en haarknippies. As een van jou vriendinne lyk of sy `n halwe duif agter haar oor het help haar gerus voor nuwejaar reg. Net Pocahontas kon dié gier laat goed lyk.
Is dit `n denim? Is dit `n swembroek? Nee, dis “printed jeggings”. Die grootste verbode mode is tights wat as `n broek gedra word en gelukkig besef meeste tights-draers dit. Maar net toe jy dink daar was geen erger manier om die mode-item te dra nie, gewaar jy `n meisie op die GW se trappe in tights wat die patroon van `n denimbroek op het. Die rits en sakke verskyn in `n foto-agtige beeld op haar, maar die lap is nylon en klou soos `n tweede vel om haar figuur. Bêre gerus die vreemde kostuum agter in jou kas, want volgens modes vir somer 2012 uit Europa sal dit gelukkig ou nuus wees.
Eers was dit No Strings Attached en toe Friends With Benifits. As jy nie uit die voorspelbare titels kon raai dat albei flieks `n stokou storielyn herwin nie, moet jy dalk nie op universiteit wees nie. Die groot onsekerheid oor die keuse tussen vriende- en geliefdes-wees, word op `n soetsappige (maar tog komiese) manier ondersoek, maar twee flieks wat basies dieselfde is, is meer as genoeg vir een jaar. Vriende met voordele bly nooit net dit nie en in 2012 sal Hollywood dit hopelik nie weer vir ons probeer vertel nie.
Lion King is te goed om deur enige iets bederf te word, maar om ou flieks weer op die kringloop te sit, hierdie keer in 3D, is iets wat maar in 2011 kan bly. Omdat mens nooit te oud is om `n Disney fliek te geniet nie, sal gehore dit meer geniet as Disney eerder nuwe flieks uitbring en die classics van jou kinderdae in hulle tweedimensionele perfeksie los soos hulle is.
As daar een naam is wat niemand in 2012 se poniekoerante gaan mis nie, is dit Charlie Sheen. Na die soveelste skandaal is dié akteur ou nuus en wens getroue aanhangers dat iemand hom net in `n rehab-kliniek wil toesluit vir meer as `n paar maande. Ashton Kutcher word verwelkom as die nuwe Charlie op die gewilde reeks Two and a Half Men en beloof om niemand te laat terug verlang na 2011 s’n nie.
Net wanneer jy daaraan gewoond raak dat jou vriendelys hier is en jou wall posts daar, draai Facebook se uitleg weer op sy kop. 2011 het heelwat veranderings (van die grootstes nog) op die sosiale netwerk gesien. “Hulle verander nou om meer soos Twitter te lyk eintlik,” beweer eerstejaar inligtingkunde student, Jason Vermeulen. Hopelik hoef verbruikers in 2012 nie nog veranderings op hulle gunsteling sosiale netwerk te verwerk nie.
Lawrence van der Linde, `n eerstejaar bedryfsingenieurswese student, sê hy sal beslis nie al die Royal Weddings mis nie. “Ek verstaan nie hoekom mense na iemand wat jy nie eers ken nie se troue sal wil kyk. Hopelik bly Prince Harry `n bachelor!” Gelukkig kan daar met redelike sekerheid voorspel word dat jou TV-gids in 2012 nie op elke kanaal die troue van `n prins sal hê nie, tensy die krieket uitrëen en dit `n heruitsending is.
Volgens tweedejaar joernalistiekstudent, Anton Meijer, gaan hy glad nie vir BlackBerry mis in 2012 nie. Na onlangse probleme met BlackBerry-dienste reg oor die wêreld, word dié populêre slimfoon se waarde bevraagteken. “Ek dink baie minder mense gaan BlackBerry’s vir Kerfees kry hierdie jaar,” voeg hy by.
Dis lekker om nou en dan nostalgies te raak, maar verandering kan goed wees. Met 2012 om die draai kan jy nou al begin uitsien na nuwe giere, goeie flieks en (hopelik) `n selfoon wat werk.
Image: CoutureAllure.com