Wat jy nie oor kanker geweet het nie

by PDBY Staff | Jul 31, 2012 | News

THIS ARTICLE WAS PUBLISHED BEFORE PDBY STOPPED PUBLISHING IN AFRIKAANS IN 2012. ALL ARTICLES FROM 2012 TO PRESENT ARE IN ENGLISH

Statistiek vanaf Health24 wys dat een uit elke ses mans en een uit elke sewe vrouens in Suid-Afrika met `n vorm van kanker gediagnoseer word.

MIGNON PEENS

Statistiek vanaf Health24 wys dat een uit elke ses mans en een uit elke sewe vrouens in Suid-Afrika met `n vorm van kanker gediagnoseer word. Dokters kan dikwels nie verduidelik waarom `n persoon kanker ontwikkel nie, maar navorsing toon dat daar sekere risiko-faktore is wat jou kans om kanker te kry verhoog.

Volgens Ayesha Sassman, beampte van die Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA), word Suid-Afrikaanse vrouens die meeste met borskanker, servikale kanker, kolonkanker, longkanker en slukdermkanker gediagnoseer. Die tipe kankers wat algemeen by Suid-Afrikaanse mans voorkom is prostaatkanker, longkanker, slukdermkanker, blaaskanker en kolonkanker.

Die vraag is egter: hoe kan `n mens kanker probeer voorkom? Twee van die hoof risiko-faktore wat kanker kan veroorsaak, is sonskade en ioniserende straling (microwave radiation). `n Mens kan nie juis die son of `n mikrogolfoond vermy nie, maar dit sal slim wees om sonskerm op `n daaglikse basis aan te wend en nie naby die mikrogolfoond te staan terwyl jou kos gaar word nie. Alkohol is die oorsaak van ongeveer 3% van kankers, tabak van 30% en dan is sekere chemikalieë ook deel van die hoof risiko-faktore. Wees dus maar versigtig vir die gevaar wat binne bottels, pille en sigarette skuil.

Sigarette doen nie net jou longe skade aan deur longkanker te veroorsaak nie, maar kan ook die oorsaak wees van verskeie ander kankers. Baie nie-rokers het ook nie die vaagste benul dat sekondêre rook wat ingeasem word amper net soveel skade kan aanrig nie. Diegene wat rook is meer geneig om leukemie te ontwikkel. Sou jy ophou rook, verminder dit jou kanse om weer kanker te ontwikkel indien jy dit alreeds tevore oorwin het. Indien jy hulp benodig om op te hou rook, besoek www.cancer.gov of www.smokefree.gov.

Om `n slegte dieet te volg is volgens Health24 glo die oorsaak van ongeveer 35% van alle kankersterftes. Kanker in jou borste, longe en spysverteringskanaal hou ook verband met `n slegte dieet.

Virusse en bakterieë is twee ander hoof risiko-faktore. Indien jy met sekere virusse of bakterieë besmet word, kan dit jou risiko om sekere tipes kanker te kry verhoog. Hormoonterapie en medikasie soos estrogeen (alleen of saam met progestin) kan ook jou kanse om borskanker, hartaanvalle, beroertes en bloedklonte te kry verhoog. Daarom moet mens maar versigtig wees rondom die keuse van hormoonaanvullings wat jy wil gebruik.

Indien jy versoeters in plaas van suiker gebruik, spits jou ore vir die volgende kontroversiële studies: `n ruk gelede het `n furore in die pers ontplof toe liberaal-demokratiese parlementslid, Roger Williams, gesê het dat items wat aspartaam bevat van die mark afgehaal moet word, omdat daar sterk wetenskaplike bewyse te voorskyn gekom het wat bewys dat die komponente van aspartaam en hulle metaboliete ernstige toksiese uitwerkings op mense het. Aan die ander kant het die European Commission’s Scientific Committee on Food (SCF) dit heeltemal veilig verklaar na menige omvattende studies. Aangesien talle studies mekaar weerspreek, is dit veiliger om aspartaamvrye versoeters te gebruik.

Dr. Georgia Demetriou, woordvoerder vir die SA Oncology Consortium (SAOC) en onkoloog by die Universiteit van Witwatersrand, sê dat die voorkoming, behandeling en bewusmaking van kanker in Suid-Afrika tans uiters swak en heeltemal onder standaard is. Indien jy nie aan `n mediese fonds behoort nie, staan jy nie maklik `n kans om jou mediese onkostes te dek nie. CANSA versoek dat Suid-Afrika se begroting in terme van die voorkoming, behandeling en bewusmaking van kanker verhoog word en dat die regering `n groter bydrae deur die belasting van tabak lewer.

Dr. Demetriou wil die bekommernis dat daar tans `n tekort aan opleidingsposte vir onkoloë is onder mediese studente se aandag bring. Daar kwalifiseer slegs ongeveer 40 onkoloë in Suid-Afrika elke vier jaar. Sy stel voor dat `n moontlike oplossing vir hierdie probleem sal wees om opleidingsposte vir onkologie te skep. “Poste moet vasgemaak en verseker word by universiteite regoor die land en `n groter blootstelling van studente in die voorgraadse sowel as nagraadse vlak sal die bewustheid van kanker verhoog as `n subdissipline wat dan meer van diegene tot die professie sal betrek,” sê Dr. Demetriou.

Hoewel die laaste twee risiko-faktore, veroudering en `n familiegeskiedenis van kanker buite jou beheer is, beveel mediese kundiges aan dat diegene met `n familiegeskiedenis van kanker vir gereelde ondersoeke gaan.

Beeld: WordPress.com

Website | view posts