ANNEKE RUBEN

Jy was jou hele matriekjaar opgewonde oor die vooruitsig van studentwees. Wanneer jy uiteindelik in jou nuwe kamer intrek, kan jy skaars wag om vir die eerste keer die smaak van totale onafhanklikheid en vryheid te proe. Somtyds gebeur dinge egter nie soos jy dit beplan het nie. Voor jy nog “Tuks of Niks” kan uiter, oorval `n intense verlange na jou ouerhuis jou.

Heimwee kelder baie eerstejaars gedurende die eerste paar weke op universiteit. Dit is vir enige student moeilik om by al die nuwe uitdagings aan te pas en dit kan soms na te veel voel om te hanteer.

Louw Venter, `n derdejaar sielkunde student, sê: “Toe ek [`n] eerstejaar was, was daardie eerste paar weke baie moeilik.” Hy verduidelik dat dit vir hom gelyk het asof almal om hom dit makliker as hy gevind het om aan te pas en of hulle die ervaring meer as hy geniet het. Eers nadat hy met van hierdie persone gesels het, het hy agtergekom dat hulle maar net so verlore soos hy gevoel het. Almal vind wel een of ander tyd hulle voete op universiteit – selfs al neem dit tyd.

Volgens Dr. Steven Smith, `n kliniese sielkundige by die Texas A&M Universiteit, is die geheim om vinnig in `n nuwe omgewing aan te kan pas `n “gee-en-neem” proses. “Wanneer eerstejaars moeite doen om aan te pas en nie bang is om betrokke te raak by verskillende organisasies nie sal hulle dit makliker vind om vriendskappe te smee en om meer tuis te voel in hulle nuwe ruimte.”

En as jy sukkel om met mede-eerstejaars te praat en om vriende te maak? Dit kan senutergend wees om deur soveel nuwe mense omring te word en miskien is jy soms te skaam om jouself aan iemand voor te stel. Sylvia Robbert, `n professor in menseverhoudings by die Universiteit van Cambridge, het raad vir eerstejaars wat gefrustreerd is met hul gebrek aan sosiale vaardighede. “Vra baie vrae as jy met iemand praat wie jy nie ken nie. Ons almal is mos lief daarvoor om oor onsself te praat en deur vrae te vra, toon jy positiewe belangstelling in `n persoon se lewe. Dit skep ook `n geleentheid om dalk ooreenkomste in jul belangstellings te vind. Voor jy jouself kan kry, het jy `n nuwe vriend,” sê Robbert.

Tuks bied gelukkig `n hele klomp geleenthede aan wat dit makliker maak vir eerstejaars om betrokke te raak en sosiaal te verkeer. Indien jy nie in `n koshuis is nie kan jy aansluit by `n daghuis en sodoende deelneem aan Jool en ander koshuisaktiwiteite soos Ienkmelodienk, Serrie en Serenade. Deur by `n daghuis aan te sluit, kry jy ook die geleentheid om aan jou gunsteling sportsoorte deel te neem.

Indien `n daghuis-leefstyl nie in jou smaak val nie is daar verskeie geleenthede in Pretoria om jou stokperdjies op `n sosiale vlak te beoefen. So kry jy die geleentheid om interessante mense te ontmoet. Wynliefhebbers kan aansluit by The Pretoria Wine Lovers Club (studente kry 10% afslag). Jy kan selfs by fotografieklubs, soos die Pretoria Photowalkers, aansluit.

Gerhard Botha, `n derdejaar BSc Landbou student, het nooit aan `n daghuis of koshuis behoort nie. “Ek het my vriende gemaak in klasse en ek het begin muurklim by LC de Villiers (sportkampus). Ek stel ook belang in rekenaarspeletjies en het by `n klub in Hatfield aangesluit.” Botha gee verder advies aan eerstejaars wat huis toe verlang: “Hou jouself besig met aktiwiteite waarvan jy hou, mits jy nie moet leer nie. Dan is jy te besig om te verlang.”

Indien jy glad nie van hierdie diep verlange ontslae kan raak nie raai Dr. Madeleine Nolte, hoof van Tuks Studenteondersteuning, eerstejaars aan om van die studenteondersteuningsdienste gebruik te maak. “Dienste word gratis en vertroulik aangebied. Moenie skaam wees om vir hulp en bystand te vra nie.”

Jou heimwee en verlange gaan heel moontlik gereeld geprikkel word. Jy mis dalk jou ma se kookvernuf na `n lang dag van uitdagende klasse, jou vriende wat ver is of miskien selfs die oop vlaktes van jou piepklein tuisdorp. Dis egter hoe jy hierdie verlange hanteer wat saak maak. Jy sal vinnig jou liefde vir Tuks en jou mede-eerstejaars vind – gee jouself net tyd.

Photo: Charné Fourie

Website | view posts