Theuns van Rhyn, ‘n tweedejaar BA Joernalistiek-student, sê: “Vloek is lekker, maar soos met ander lekker dinge in die lewe, soos seks, drank, rook, ensovoorts, moet matigheid voor oë gehou word en dit moet op die regte plek en in die regte geselskap gebruik word,” en las toe by, “F*k ja!”
MARIÉ VAN WYK
Of dit nou ‘n uitroep van pyn of ‘n kreet van plesier is, almal, van jou ouma tot jou beste vriend, het al per geleentheid ‘n kragwoord geuiter. Selfs kinders leer vloekwoorde aan, lank voordat hulle die ware betekenisse daarvan verstaan, want elke taal of dialek het sy gedeelte van verbode woordeskat. Die vraag is: waarom en wanneer het dit begin?
Guy Deutscher, ‘n taalkundige aan die Universiteit van Leiden en skrywer van The Unfolding of Language: An Evolutionary Tour of Mankind’s Greatest Invention, het in ‘n onderhoud met die New York Times, gesê dat van die vroegste geskrifte, wat van sowat 5 000 jaar terug dateer, kleurvolle en kru beskrywings oor die menslike ligaam en sy funksies bevat. Daar is ook verskeie voorbeelde van antieke krutaal wat in die Bybel verskyn, soos byvoorbeeld in 2 Konings 18:27, wat in die King James- vertaling voorkom as “eat their own dung, and drink their own piss”. Selfs Shakespeare kon skaars ‘n paragraaf neerpen sonder om ‘n vloek- of lasterwoord van sy tyd daarin te sit. Voorbeelde is “zounds” en “sblood,” wat op ‘n beledigende manier na die wonde en bloed van Jesus by sy kruisiging, verwys.
Selfs vandag ontlok krutaal en kragwoorde ‘n reaksie. Kyk net na die omstredenheid wat Fokofpoliesiekar met hul naam geskep het, om nie eers te praat van die lirieke wat deur musikante soos Die Antwoord en Jack Parow gesing word nie. In dieselfde New York Times-artikel, noem dr. Kate Burridge, ‘n taalprofessor aan die Monash Universiteit in Melbourne, Australieë, dat ‘n moontlike rede vir so ‘n reaksie kan wees dat mense baie passievol is oor hulle taal en dit ten alle koste wil beskerm teen enigiets wat dit kan besoedel. Dr. Burridge sê ook dat mense meer geneig is om in ‘n groep van hul nabye vriende te vloek, omdat hulle gemakliker is en voel dat hulle kan sê wat hulle wil. Maar is vloek regtig so sleg?
Volgens verskeie studies deur sielkundiges, blyk dit dat dit soms ‘n goeie ding kan wees om te vloek. Timothy Jay, ‘n sielkundige aan die Massachusetts College of Liberal Arts, wat al 35 jaar oor krutaalgebruik navorsing doen, het in ‘n berig deur Frederik Joelving gesê dat om te vloek ‘n manier kan wees om uitlating aan ons emosies te gee. ‘n Manier om geluk, verbasing, blydskap of pyn te demonstreer. Dit kan ook ‘n manier van stresverligting wees. In dieselfde berig sê Richard Stephens, ‘n sielkundige aan die Keele Universiteit in Engeland, dat hy in sy studies gevind het dat om te vloek pyn kan verlig en dat hy almal wat pyn het aanraai om te vloek. Maar, die sielkundige Steven Pinker van die Universiteit van Harvard waarsku weer: “Hoe meer jy vloek, hoe minder werk die vloekwoorde om uiting te gee aan jou emosies.” Met ander woorde, jy word afgestomp vir die kragwoorde en dan word dit net nog ‘n woord.
Perdeby het gaan uitvind wat Tukkies- studente se sentimente oor ‘n kragwoord of twee in ‘n mens se taalgebruik is. Marissa Gravett, tweedejaar uitgewerswesestudent sê: “Ek gee nie om as ander mense dit doen nie, maar ek hou nie daarvan om dit self te doen nie, want dit is tacky.”
Mia Ungerer, ‘n eerstejaar BCom Rekeningkunde-student, sê, “Ek hou niks daarvan nie. Dis vir my onnodig en lelik! Dit pas veral nie by ‘n meisie nie.” Theuns van Rhyn, ‘n tweedejaar BA Joernalistiek-student, sê weer: “Vloek is lekker, maar soos met ander lekker dinge in die lewe, soos seks, drank, rook, ensovoorts, moet matigheid voor oë gehou word en dit moet op die regte plek en in die regte geselskap gebruik word,” en las toe by, “F*k ja!”
Roux van der Merve, ‘n tweede jaar BA Joernalistiek- student, stem saam: “Ek het geen f****n probleem daarmee nie – party menses sê jy moenie voor meisies vloek nie, maar as jy voor ‘n ou mag vloek, hoekom mag jy nie voor’n meisie ook nie?”
Dit blyk dat vir so lank as wat mense al praat, vloek hulle en alhoewel vloek nie sommer as alledaags aanvaar gaan word nie, is ‘n kragwoord elke nou en dan dalk net goed vir jou.