NATASHIA HUDSON
Meeste studente se sosiale paadjies lei gewoonlik na die Square. Of hulle nou gradueer of ’n module druip, verjaar, wil rugby kyk of net ‘n kuier saam met vriende wil deel … studente vier gewoonlik hierdie geleenthede in dié prettige vierkant vol kuierplekke.
Maar soms word dit eentonig. Is daar nie tog ander vorme van vermaak buiten die Square in die Jakarandastad nie? Vorme van vermaak wat, soos Cheeky se cocktail specials, ook ‘n student se nederige begroting in ag neem, maar wat meer waaghalsig is as om op Aandklas se tafels te dans. En dalk, as ’n bonus, wat ook partytjiediertjies se lewers bietjie van ’n blaaskans sal gee. Dit is mos nie te veel gevra nie, of hoe?
Perdeby het gaan uitvind of daar tog súlke plekke vir die keelvol-vir-die-Square studente is, en het ’n lys opgestel vanaf rustiger na avontuurlustiger.
Kegelbal (Tenpin bowling)
“Wêreldkampioenskapstandaarde”, helder UV-beligting en skreeusnaakse skoene.
Waar: Galaxy World, Menlyn Park en Kolonnade-winkelsentrum
Wanneer: 09:00-22:00
Hoeveel: Weeksdae R30.00 per persoon per spel en naweke R33.00 per persoon per spel.
Winskopie: Silly Sundays (Kolonnade-winkelsentrum): twee rondtes vir R40.00.
Ysskaats
Pop-musiek van die 90s, verliefde tieners wat hande vashou en mense wat papsopnat al in die rondte skaats.
Waar: Kolonnade Winkelsentrum
Wanneer: Maandae-Sondae 10:00-17:00, Woensdae, Donderdae en Sondae, 19:30-22:30 Vrydae en Saterdae 19:30-23:00
Hoeveel: Toegang R40.00 Huur van skaatse R20.00
Winskopie: Groep van ses of meer betaal R60.00 per persoon vir toegang, skaatse en ’n Rave-burger, tjips en koeldrank van Steers.
Jungle Golf
Mini-gholf op sy opwindendste met in ‘n asemrowende omgewing wat rotse, watervalle en uitdagende setperke insluit.
Waar: Brooklyn Winkelsentrum
Wanneer: Weeksdae 09:00-22:00 en naweke 09:00-23:00
Hoeveel: Enkelspel R38.00, dubbelspel R43
Winskopie: Studente betaal slegs R42 vir 3 potjies (kaartjies altyd geldig)
Go-Karts
Spoed en skreeuende bande Schumi-styl!
Waar: Ondergrondse parkeerarea (vlak P6U) by Menlyn Park-winkelsentrum
Wanneer: Maandae-Donderdae 16:00-21:00, Vrydae 15:00-21:30, Saterdae 10:00-22:00, Sondae 11:00-18:00
Hoeveel: R50.00 per persoon vir 15 rondtes en R85.00 per persoon vir 30 rondtes
Winskopie: R140.00 vir 50 rondtes
Verfbal (Paintball)
Pyn, tonne adrenalien en hope verf …
Waar: Pro-Ball Paintball Games, Plot 204 Lynnwoodweg, Zwavelpoort, Pretoria.
Koördinate S 25? 49. 437 O 28? 22. 987
Wanneer: Twee- en ’n halfuur-sessies Dinsdae-Saterdae 08:30, 11:30 en 14:30, Sondae 11:30 en 14:30
Hoeveel: R35.00 per persoon. Dit sluit in een sessie, ‘n geweer, oorpak, masker en 15 verfballetjies.
Winskopie: R40.00 vir addisionele 100 verfballetjies.