CHARLES SIWELE AND MARIE VAN WYK
Met die Olimpiese Spele wat in 2012 plaasvind, het Perdeby besluit om in die opwinding te deel deur onderhoude te voer met sommige van die Tuks-atlete wat Suid-Afrika in Londen gaan verteenwoordig. Hierdie week praat ons met die belowende diskusgooier, Elizna Naude.
Waar is jy oorspronklik vandaan?
Ek is van Sasolburg – of Vaalpark om meer spesifiek te wees – wat `n klein dorpie in die Vrysaat is. So ek is `n ware Cheetah.
Wanneer het jy begin om diskus te gooi?
Die eerste keer wat ek `n diskus gegooi het, was in 1991. Ek het in graad 7 begin en het in graad 11 vir die eerste keer `n Suid-Afrikaanse rekord (die o/16 rekord) gebreek. Dit was rondom hierdie tyd wat ek op die sport verlief geraak het.
Hoeveel byeenkomste woon jy per jaar by?
Ons seisoen begin hoofsaaklik in Februarie en Maart, met nasionale kompetisies in April, so tussen vyf en sewe byeenkomste. Daar kan ook meer byeenkomste plaasvind tussen klubkampioene en ook ander, nuwe geleenthede. In Mei trek ek dan gewoonlik vir so ses weke na Duitsland, om te oefen soos die Duitsers dit doen.
Hoe voel jy oor jou kanse in die Olimpiese Spele later vanjaar?
Wel, as alles volgens plan verloop, soos dit op die oomblik doen, hoop ek om my plek op die wêreldranglys te verbeter. Ek sê dit sonder om voor op die wa te wees, want dinge werk nie altyd uit soos wat jy beplan nie.
Hoe sal jy sê vergelyk die Suid-Afrikaanse atletiekspan op die oomblik met die res van die wêreld?
Ons het goeie atlete. Ons het `n goeie aflosspan en uitstekende spiesgooiers. Ek dink ons is een van die lande met die mees talentvolle atlete in die wêreld, maar soms glo ons dit self nie genoeg nie. Soms is die probleem dat ons in Suid-Afrika nie goeie kompetisie, in vergelyking met die Europese nasies, het nie.
Hoe berei jy voor vir die Olimpiese Spele?
Ek oefen vyf ure elke dag. Natuurlik is daar ook dieetvoorbereiding. Dan het ek my kantoorwerk. Dit is baie werk, maar ek glo dat hoe harder jy werk, hoe meer bevredigend jou sukses sal wees wanneer jy uiteindelik daardie medalje om jou nek het.
Watter lande verwag jy sal die finale rondtes haal?
Daar sal byna verseker `n Rus en `n Duitser wees. Roemenië, Slowenië en China sal waarskynlik ook daar wees. En hopelik ek, as dinge goed gaan.
Verbode middels is `n probleem wat `n groot invloed op veld- en baanatlete het, veral in jou item. Wat is jou opinie daaroor?
Dit is altyd `n moeilike onderwerp, want jy weet nooit wie skoon is en wie dalk onwettige dwelmmiddels, wat algemene prestasie verbeter, gebruik nie. Maar as `n professionele atleet moet jy omtrent vier toetse in drie maande ondergaan. Die sport is skoner as in die verlede, maar daar is altyd `n manier vir sommige mense om verby sekere toetse te kom. Om nie eens te praat van al die nuwe middels en meer gevorderde maniere om dit te gebruik nie, byvoorbeeld “gene doping” wat amper onmoontlik is om op te spoor of raak te sien. Sulke dinge veroorsaak `n bietjie omstredenheid, maar ek moet sê dat die sport meestal skoon is teen die tyd wanneer die groot byeenkomste plaasvind.
Wat sal jy wil deel met diegene wat die toppunt van hul gekose sportsoorte wil bereik?
Ek gebruik `n aanhaling: “Dit is altyd te vroeg om op te gee.” Ek is 32 en ek geniet steeds die sport wat ek doen.
Photo provided