Vriende en verlief?

by PDBY Staff | Mar 29, 2010 | News

Dit is maklik om nuwe vriende te maak, maar om hulle vriendskap te behou, is ʼn ander saak. Dit raak veral ingewikkeld wanneer die sogenaamde nuwe vriend van die teenoorgestelde geslag is. Wat gebeur as die nuwe vriend se intensies teenoor jou verander?

MARIE VAN WYK

Dit is maklik om nuwe vriende te maak, maar om hulle vriendskap te behou, is ʼn ander saak. Dit raak veral ingewikkeld wanneer die sogenaamde nuwe vriend van die teenoorgestelde geslag is. Wat gebeur as die nuwe vriend se intensies teenoor jou verander?

Dink jouself in die volgende situasie in: ʼn paar maande gelede betree jy die klas, al snakkend na asem, net-net betyds binne. Die dosent het al begin, jou oë gly vlugtig oor die studente, maar jy sien nie jou vriende nie, so jy gaan sit op die eerste beste plek. Haastig begin jy in jou sak rondvroetel vir ʼn pen en papier, (ʼn ou strokie of pamflet) om notas te begin maak. Dan trek iets jou aandag af … dit is die vreemdeling langs jou wat saggies vir jou sit en lag. Nogsteeds uitasem, en half geïrriteerd, vra jy blatant, “Wat?” En siedaar, jy het ʼn nuwe vriend!

Die daaropvolgende maande vlieg in onskuldige, laggende en geselsende harmonie verby. Tot een helder sonskyndag toe die nuwe vriend sy/haar oneindige en innige liefde aan jou verklaar. Totaal en al uit die veld geslaan, hap jy na lug – jy het geen idee wat om te sê nie. Jy wil nie noodwendig die vriendskap verloor nie, maar jy voel definitief nié dieselfde nié. Perdeby het gaan uitvind wat studente in so ʼn geval sou doen.

Frederich van Staden, ʼn tweedejaar BSc IT en Bioinformatika-student, het gesê dat hy sal jok en sê: “Jammer, ek is in ʼn verhouding,” al is hy nie, in die hoop om die vriendskap te behou. Ilana Marais, ʼn eerstejaar ingenieurs-student sal ʼn meer subtiele manier probeer en vir die nuwe vriend sê dat sy nie op die oomblik in ʼn verhouding belangstel nie en dat sy nie hom in daardie manier sien nie. “Ek wil nie die vriendskap opmors nie,” is wat Schalk Verwey, ʼn tweedejaar BSportwetenskap-student, sou probeer het. Theuns van Rhyn, ʼn BA Joernalistiek student, het gesê dat hy dit duidelik vir die vriend sal maak dat hy “flattered” is, maar dat hy nie belangstel nie, terwyl sy vriendin Corlia Coetzee, wat ook BA Joernalistiek swot, vir die vriend sou gesê het dat hy nie haar tipe is nie. Sy het ook bygelas, “ek weet dis ʼn cliché, maar wat anders moet jy sê?”

Dit is ʼn baie goeie vraag. Dit maak nie saak wat jy gaan sê nie, die vriend gaan seerkry, of op die minste in die gesig gevat voel. Die vriendskap gaan vir ʼn rukkie daarna ongemaklik wees, maak nie saak hoe jy die situasie gaan hanteer nie. Alhoewel, ʼn goeie vriendskap sal die terugslag kan vat en na die ongemaklikheid verby is, sal dinge tien teen een weer vlot verloop. Kom ons hoop net dat jy nie daarna besef jy het toe al die tyd ook van die vriend gehou nie…

Website | view posts