LOUISE PIETERSE
Op 7 Augustus het Boekenhout, Sonop, Mopanie, Vividus Mans en Dames, Zeus Mans en Dames, Curlitzia en Erika dit uitgespook om te sien wie met Serenadefinaal as die wenners sou uitsien. Vividus Dames het skoonskip gemaak en is as wenners van die damesafdeling gekroon. Hulle was die enigste koshuis wat ‘n staande toejuiging aan die einde van hul optrede ontvang het. Zeus Mans het die mansafdeling gewen en is ook as algehele wenners van die kompetisie aangewys. Vividus en Boekenhout was onderskeidelik tweede en derde in die mansafdeling en by die dames is Curlitzia as tweede en Zeus Dames as derde aangewys.
Prof. Cheryl de la Rey, wat die gehoor voor die tyd in die Musaion toegespreek het, het almal verseker dat Tuks ‘n groot klem op studentelewe plaas en dat Tuks studente lewer wat sukses sal behaal en gelukkige lewens sal lei. Die beoordelaars het grootkoppe soos Johan Laas, van Idols–faam, ingesluit.
Erika, met hulle “Sexy Eyes Optometrists” tema, het die aand geopen met ‘n hele paar flaters soos pare brille wat aanhoudend uit hul sakke geval het. Die grootste blaps was egter toe een van die sangers ‘n meter-hoë EyeGene bottel uithaal en dit so hard neersit dat die boonste deel van die prop afbreek. Een van die dames het boonop tot die vernedering bygedra deur die prop in die gehoor in te skop.
Die res van die optredes was ook nie sonder probleme nie. ‘n Sonop-man het sy saag op sy eie voet laat val en ‘n Boekenhout-boemelaar se kruisbande het oor sy kop geskiet toe hy te laag afbuk.
Zeus Mans se tema was “Zeus Begrafnisondernemers”. Wat opvallend was, is dat die voorsanger bykans die enigste solo-sanger was. Lede van die gehoor is egter verwar deur die feit dat daar amper meer deelnemers in Zeus serenade-groepe was as wat daar in die daghuis self is.
Die kaartjieverkope vir hierdie jaar se serenade was flink en die meer as 2000 kaartjies wat vir die aand van die finaal verkoop is, dien as bewys dat Tuks opreg trots is op talentvolle studente en ‘n studentelewe met skop.