Vividus ma en dogter dag

by PDBY Staff | May 10, 2010 | Uncategorized

STEPHANIE KRUGER

 

Op 24 April het die Vividus-dames bymekaar gekom vir ? moeder-en-dogter dag by Lavandou, ‘n onthaallokaal 20km van kampus af.

Die funksie is vir die Vividus-dogters en hul ma’s gereël om bietjie tyd saam te spandeer. Liesl van Wyk, spirituele en Jool HK van Vividus-dames, sê dat dit die perfekte geleentheid was vir ma en dogter om opnuut mekaar te leer ken en waardeer. “In vandag se lewe is dit al te maklik om behep te raak met jou eie lewe en probleme.” Volgens Van Wyk groei hierdie byeenkoms jaarliks.

Die tema van die dag was: die tuin van Eden. Dit simboliseer vrouens se basiese verhouding met God en wat Hy wil hê sy dogters hier op aarde vir Hom moet doen.

Die geleentheid was veronderstel om ? piekniek te wees maar weens die reën is al die dames na binne verskuif. Van Wyk voel egter dat hierdie skuif op die ou einde ideaal was. Die saal is vol kerse gepak en die atmosfeer was gesellig en intiem.

Dis ‘n tradisie dat elke ma en dogter vir die geleentheid ‘n klein geskenkie maak. Hierdie jaar was dit ‘n kruisie en moes elke ma-en-dogter span na ete hul kruisie oorhandig aan die span aan hul linkerkant. Gebrek aan kreatiwiteit was daar nie en die kruise was volgens diegene teenwoordig besonder indrukwekkend.

Die Vividus-dames het die byeenkoms terdeë geniet. Van Wyk stel dit duidelik dat die sukses van die geleentheid te danke aan God is. Sy hoop opreg dat die funksie elke jaar meer mense sal lok en is reeds opgewonde om te begin met die reëlings vir volgende jaar se moeder-en-dogter-dag.

Website | view posts