MARELIZE MYERS

 

Op Saterdag 31 Julie het die NG-kerk Universiteitsoord, ter viering van sy 50ste bestaansjaar, die 17de jaarlikse kaskarwedren gehou.

Sonop en Klaradyn het vir die vierde jaar in ‘n ry die dag gewen. Madelief was tweede en Zinnia derde van die dames. By die manskoshuise is Boekenhout en Taaibos onderskeidelik as tweede en derde aangewys.

Sonop het sy posisie in die eerste wegspringplek met 9.59 sekondes verseker en so ook Klaradyn in die damesafdeling, met 10.07 sekondes.

Die kommentator, Hendrik Verwoerd, was deurgaans vol lof vir die spangees en motivering van Klaradyn. “Die verskil tussen Klaradyn en die ander is nie net spoed nie, maar ondersteuning,” het Verwoerd gesê. Madelief en Magrietjie was egter gedetermineerd om Klaradyn verby te steek. Erika was by die aanvang van die wedren gedrewe, maar het volgens Verwoerd op ‘n sekere punt die handdoek ingegooi. Hy het die dameskoshuise se wedren as ‘n “naelbytstryd tot aan die einde” beskryf. Alhoewel Klaradyn meeste van die wedren voorgeloop het, het Madelief gewen. Eloise Seyn, ‘n trotse Madeliefie, het gesê, “Dit was amazingly lekker.”

Toe die manskoshuise wegspring was daar chaos. Almal was vasberade om te wen en nie een wou bes gee nie. Almal behalwe Maroela, wat eerder daarop ingestel was om die gehoor te vermaak. Hulle het, teenstrydig met die reëls, daarop aangedring dat twee of drie Marole op ‘n slag die kar stoot. Die drywer het ook telkens uitgeklim en die kaskar se wiele “gepomp” asof hulle in ‘n Formule 1 pit-stop  is. Dit het gemaak dat Maroela bykans met elke slag wat hulle die streep oorsteek, deur die strafkuip moes gaan. “Maroela het verseker die grootste versameling rooi vlae, ek wonder of hulle dink daar is ‘n prys daarvoor,” het Verwoerd geskerts.

Kollege het soos gewoonlik vir sports gesorg toe hulle in die middel van die wedloop, van die kantlyn af, ingedruk het.

Sonop het egter van die begin af die leiding geneem. Ten spyte van ‘n pap wiel en verskeie ongelukke het hulle dit reggekry om Kollege en almal anders verby te steek en stof in hul teëstanders se oë te skop.

Die algehele wenners van die dag is egter nie net deur die wedren bepaal nie. Die fondsinsameling en deelname het ook ‘n rol gespeel. Vir elke R10 wat ingesamel is, is een bonuspunt aan die koshuis toegeken. Olienhout was die enigste manskoshuis wat bonuspunte ontvang het. Hulle het 70 bonuspunte gekry. Die dameskoshuise was meer suksesvol. Klaradyn het 472 bonuspunte gekry, wat hulle as algemene wenners bo Madelief met 435 bonuspunte geplaas het.

‘n Leraar aan die Universiteitsoord, ds. Paul, het, as organiseerder van die kaskardag, gesê dat hy trots is dat die dag weereens ‘n reuse sukses was.

Website | view posts