Vet word: is dit aansteeklik?

by PDBY Staff | May 6, 2013 | Features

ANLERIE DE WET

Almal het seker al gehoor dat `n goeie dieet en genoeg oefening die wenresep vir `n gesonde lewensstyl is. Daar is mense wat getrou stappe volg om by hierdie lewensstyl te bly, maar min weet hulle dat daar `n vetmaakvirus in die lug rondhang wat die wenresep kan verorber.

Dr. Magdalena Pasarica en haar navorsingsgroep van die Pennington Biomediese Navorsingsentrum by die Staat van Louisiana Universiteit, het `n studie oor die oorsaak van vetsug op diere gedoen en gevind dat 30% van die diere met vetsug die Adenovirus 36 (AD-36) dra. AD-36 val vetselle aan. Mense doen hierdie virus (wat gewoonlik verkoue veroorsaak) op en dan produseer die liggaam teenliggaampies om hierdie tipe verkoue te verhoed.

Na daar intensiewe toetse op diere gedoen is, het Pasarica en haar span bevind dat AD- 36 onvolwasse vetselle infekteer, wat die selle forseer om vinniger te ontwikkel en te verdubbel as gewoonlik. Pasarica verduidelik dat dit nie beteken dat `n virus die enkele oorsaak van vetsug is nie: “Die studie gee sterker bewys dat `n virale infeksie moontlik by party vetsugsake betrokke kan wees.”

Na die publiekmaking van hierdie studie se bevindings het Dr. Nikhil Dhurandhar, ook `n professor van die Staat van Louisiana Universiteit, die studie verder gevoer en die effek van AD-36 op mense getoets. Hierdie is die eerste epidemiologiese studie ter wêreld wat die verwantskap van `n virus met menslike vetsug toets. Dhurandhar en sy span het 1 400 steekproewe van bloed getoets waarvan 41% van die vrywilligers AD-36 teenliggaampies het. Van hierdie 41% is 30% oorgewig en 11% is `n gesonde gewig.

Met hierdie studie het die navorsers stamselle van mense met verskeie ouderdomme en rasse en van beide geslagte verkry. Die helfte van die stamselle was blootgestel aan AD-36 en die ander helfte nie. Na `n week het die nie-blootgestelde stamselle onveranderd gebly, terwyl die meerderheid van blootgestelde selle in vetselle verander het. Navorsers het tydens dié studie ook opgelet dat `n geen (E4Orfl), wat met AD-36 geassossieer word, teenwoordig is in al die vrywilligers wat oorgewig is en AD-36-positief is. Alhoewel dit nie amptelik bewys is nie, glo baie navorsers dat die geen verantwoordelik is vir die aktivering van die virus om vetselle te verdubbel.

Omrede hierdie studie op volwasse persone uitgevoer is, het Dr. Jeffrey Schwimmer, `n pediatriese gastroënteroloog en sy groep navorsers van die Universiteit van Kalifornië, San Diego, besluit om te toets of hulle dieselfde resultate by kinders sal kry. Met die samewerking van die Rady Kinderhospitaal het Schwimmer 124 kinders tussen die ouderdom van 8 tot 18 getoets vir AD-36. Negentien van die kinders, waarvan 15 oorgewig is, het AD-36 teenliggaampies gedra. Schwimmer en sy span het ook bevind dat die kinders wat beide AD-36 en `n hoë liggaamsgewig het, `n gemiddeld van 24kg swaarder is as die wat negatief getoets het vir die virus. Na inagname van die resultate van die navorsingstudies oor AD-36 en vetsug tot dusver, is daar duidelike bewyse dat die twee `n verwantskap aan mekaar het.

Waar normale vetsug `n persoon se organe negatief affekteer, met hart-, lewer- en suikersiektes, verminder AD-36 vetsug die risiko van hierdie siektes omdat die vet aan die vetselle in plaas van die organe vasheg. Dhurandhar glo selfs dat AD-36 teenliggaampies as `n gesonder en veiliger terapie vir diabete as Pioglitazone, die huidige middel, gebruik kan word. Pasarica sê dat dit ook as `n entstof vir ander virusse, selfs AD-36, gebruik kan word.

Dit word deur Pasarica duidelik gemaak dat al die studies bewys dat “nie al die mense wat geinfekteer is vetsug ontwikkel nie”. Sy sê verder dat verdere studies in die toekoms alle faktore wat verwant is aan die virus en vetsug sal kan identifiseer.

Foto: Lyticia Erasmus

Website | view posts