Verslaaf aan verslawing

by PDBY Staff | Oct 20, 2009 | News

HENALI KUIT

Carl Jung, die vader van die analitiese skool van sielkunde, het gesê: “Elke vorm van verslawing is sleg.” Jung het sekerlik nie besef hoeveel voordele ‘n verslawing aan brainyquote.com vir ‘n joernalis kan inhou nie. “Sleg” is boonop so ‘n kras woord. Met verslawing wat, veral so naby aan die eksamen, soos Hepatitis B orals uitslaan, vind Perdeby hierdie week meer uit oor die sielkunde agter die verknogtinge waarmee ons onsself kwansuis so sleg maak.

“Onder verslawing word bedoel ‘n toestand van periodieke of chroniese intoksikasie as gevolg van die gebruik van een of ander verdowingsmiddel,” sê drs. BP Geldenhuys en SI du Toit, outeurs van Psigopatologie. Sommige Tukkies vind vreemde maniere om ‘n vlak van intoksikasie te bereik. Melissa Lindeque, ‘n derdejaar BA Historiese en Erfeniskultuurstudies-student, vertel byvoorbeeld dat sy die afgelope naweek drie kilogram suurwurms aangeskaf het om haar deur die week te dra.“Suurwurms,” sê sy in alle erns, met een hand oor haar bors geklem, “doen dit vir my.” Lindeque meen sy is definitief aan dié klein genotjies verslaaf, want sy raak geïrriteerd en kort van draad as sy te lank daarsonder oor die weg moet kom.

“Te lank” beteken vir verskillende verslaafdes verskillende dinge. Melissa Grobler, ‘n tweedejaar wat BA Visuele Studies studeer, vertel byvoorbeeld hoe sy menigte oggende teen ‘n drafstap afsit kampus toe, nie weens akademiese ywer nie, maar omdat dit die naaste bron van kafeïen is. Niel Erasmus, ‘n tweedejaarstudent in BA Historiese en Erfeniskultuurstudies, het ook al die krap van “te lank” sonder sy nikotien beleef en deel met skaamte dat hy soms die gevreesde asbakkie-duik moet doen om stompies met nog ietsie in te herwin.

Die meeste studente is huiwerig om oor hulle verslawings te praat en dink skynbaar hulle is alleen in hul afhanklikheid. Drs. Geldenhuys en Du Toit sê dat verslawing eintlik ‘n natuurlike deel van menslikheid uitmaak. “Daar is aanduidings dat die mens vanaf die vroegste tye ontvlugting van spanning gesoek het in die tydelike verligting wat deur verdowingsmiddels gebied word.”

“Alles wat nuut, opwindend en moontlik gevaarlik is, is aantreklik vir baie mense,” sê dr. JF Loedolf en mnr. DA Louw, lektore in sosiologie en kriminologie, in Dwelmmiddels: wat, hoe en waarom?.

As ‘n Tukkie het jy waarskynlik al lankal met die nuwe en gevaarlike enigmas waarvan die geleerdes praat, kennisgemaak. Hierdie is immers Pretoria, die hoofstad van seks, drugs en boeremusiek. ‘n Mens hoef bloot ná donker binne ‘n 100 meter radius van die Square stil te staan om te besef dat dwelmverkope in ons hoekie van die aarde problematies is.

‘n Dwelm is volgens die Wêreldgesond-heidsorganisasie (WGO) enige middel wat ‘n verandering in jou liggaam, emosies of gemoedstoestand teweegbring. Ons besef dikwels nie hoe permanent hierdie verandering kan wees nie. Volgens die Mail & Guardian van 18 Mei 2007 induseer crack (kokaïen wat oor ‘n hittebron gekristalliseer is) dikwels depressie, kranksinnige paranoia en selfs skisofrenie.

Volgens Beeld van 2 April 2009 kan die gebruik van dagga en ecstacy lei tot gynecomastia, ‘n verskynsel waar ‘n man se borste vanweë ‘n ekstreme hormonale wanbalans uitermatig vergroot. Die lyn tussen ‘n joint in Cool Runnings se parkeerarea en ‘n D-cup mag fyner wees as wat jy dink; volgens die Mail & Guardian van 15 Julie 2009 beleef Suid-Afrikaners ‘n erge krisis wat gevaarlike verslawing betref. Na aanleiding van die Verenigde Nasies se statistieke is dwelmgebruik in Suid-Afrika dubbel soveel as die wêreldnorm en alkoholverkope is na berekening meer as in enige ander land.

Prof. Denis Viljoen van die Eenheid vir Alkoholverwante Navorsing sê dat 60% van gevalle van alkoholisme deur genetiese faktore veroorsaak word.

“Dis ‘n komplekse probleem wat geneties oorerf word,” sê hy. Maar studente moet steeds op hul hoede wees. “Groepsdruk is baie bepalend; dit het doodnormaal geword om te drink,” vertel Viljoen.

Vanweë al ons verknogtinge doop die Mail & Guardian Suid-Afrika die “verslawingshoofstad van die wêreld”. Dié onrusbarende beskrywing is te verstane as die skrywer Annelie Botes (wat ‘n dobbelverslaafde was) se woorde aan Beeld van 7 Augustus 2009 ter harte geneem word. “Verslawing in al sy vorme is ‘n vorm van … ontsnapping. Om te ontsnap uit die realiteit. Hoekom wil ons ontsnap? Want in die realiteit is dit seer.”

Op die vraag of hul verslawings enigsins hul lewens verryk, het al die studente wat Perdeby ondervra het, inderdaad dadelik en beslis “nee” geantwoord – selfs Jana du Toit, ‘n tweedejaar BIS Uitgewerswese-student wat onder ‘n blote jelly bean-verslawing gebuk gaan. Dit wil dus voorkom asof ou Jung ‘n punt beet het.

Website | view posts