MIGNON PEENS
Wie sou kon raai dat emosies die wêreld se grootste verslawing is?In What The Bleep Do We Know!?, `n bekende dokumentêre film, bewys ficisi dat elke mens verslaaf is aan hul emosies.
`n Mens se brein bestaan uit senuweeselle wat neurone genoem word. Hierdie neurone is gekoppel en kommunikeer met mekaar om sodoende `n neurale net te vorm. Jou neurale net het `n geheue wat al jou emosionele reaksies op vorige ervaringe stoor en dus al jou toekomstige idees, gevoelens, denke, opinies en persepsies beïnvloed. Indien jy op `n daaglikse basis emosies soos stres, angstigheid, frustrasie, irritasie, treurigheid, gierigheid, woede, jaloesie, vrees of selfbejammering ervaar, beteken dit dat daardie emosie in jou neurale net gestoor is en dat jou brein verslaaf is aan die chemiese reaksie wat die emosie te voorskyn bring.
Dr. Joseph Dispenza sê in die dokumentêr: “The neural cells that fire together, wire together.” Herhaaldelike patrone soos die onvermoë om met `n verhouding vol te hou, paranoia, om te glo in karma en bygelowe, engtevrees, hoogtevrees, obsessies en selfs die verslawing aan sigarette is gewoontes wat ontwikkel het as gevolg van voorafgaande ervarings wat in jou neurale net ingewortel is.
Jou brein raak dus verslaaf aan sekere emosies, omdat jy hom programmeer om so te funksioneer. Dit verduidelik waarom mens keer op keer dieselfde dinge doen, alhoewel jy beweer dat jy van patroon wil verander.
As dit kom by verliefdheid, is al die gevoelens wat jy ervaar, gebasseer op ervaringe rondom liefde in jou verlede wat bepaal het hoe jou neurale net bedraad is. Sommige mense assosieer byvoorbeeld liefde met teleurstelling. Wanneer hierdie mense aan liefde dink, ervaar hulle emosies soos wantroue, woede en selfs bitterheid, omdat hul persepsie van liefde gekoppel is aan hartseer veroorsaak deur vorige ervaring in of na `n slegte liefdesverhouding.
Dr. Dispenza sê gelukkig ook: “We also know that nerve cells that no longer fire together, no longer wire together.” Dit beteken dat jou neurale net se neuronkonneksies hul langtermyngeheue verloor elke keer wat jy die proses wat emosies chemies assosieer verbreek.
Nes party mense kan eksperimenteer met dwelms en nooit verslaaf raak nie, is daar diegene wat nie ontslae kan raak van hul verslawing aan die chemiese reaksies wat `n sekere persoon in hul brein veroorsaak of in die verlede veroorsaak het nie.
Die definisie van verslawing is heel eenvoudig: iets wat jy nie kan keer of stop nie. Ons skep vir onsself omstandighede wat aan ons liggaamselle se biochemiese begeertes sal voldoen. Verslaafdes kort elke keer `n bietjie meer van die verslawingsmiddel om die effek te verkry waarna hul smag. Indien jy dus nie jou emosionele toestand kan beheer nie, voldoen jy aan die definisie van verslawing.
In What The Bleep Do We Know!? word daar beweer dat niemand kan sê dat hul werklik verlief is op `n spesifieke persoon nie, omdat ons eintlik net in afwagting is op die emosies waaraan ons verslaaf is. Dit is waarom jy na `n week of twee belangstelling kan verloor indien die persoon nie meer aan jou brein se chemiese vereistes voldoen nie.
Katie Freiling, emosionele bewustheids-afrigter en spreker, verduidelik in twee Youtube-videos (“Are You Addicted To Your Emotions?” en “You Can End The Drama”) hoe jou brein werk rondom emosionele verslawing. Verder verduidelik sy hoe om ontslae te raak van interne probleemskeppende mentaliteite wat mens opgaar en lewenslank saam jou sleep.
Sy sê voorbeelde van denkwyses wat onnodige drama verooraak, is wanneer jy oorsensitief is vir algemene kommentaar en dit persoonlik opneem as kritiek, ander slegsê om jouself beter te laat voel indien jy `n swak selfbeeld het, jou geliefde nie kan vertrou nie omdat jy voel jy is nie goed genoeg nie en indien jy maklik geïrriteerd raak met mense omdat jy interne frustrasie het.
Sy sê dat jy moet probeer om in die oomblik te leef eerder as om deur jou verlede teruggehou te word indien jy die lewe vir jouself en ander wil makliker maak. Sodra jy op `n situasie wil reageer soos jy gewoonlik doen, moet jy eenvoudig `n tree terugneem en anders reageer – totdat jy jou gewoontes gebreek het.
Wanneer mens `n gewoonte lank genoeg nie beoefen nie, sal jou brein nie meer `n begeerte hê om dit te wil doen nie. Dit is wanneer jy die chemiese verslawing aan ou emosies verbreek en vir die oomblik kan begin leef.
Beeld: Charné Fourie