Vergeet alles wat jy weet: jy is nou in die koshuis

by PDBY Staff | Jan 21, 2010 | Uncategorized

 

Uiteindelik het die tyd dat jy verlos is van jou ouers en jonger boeties of sussies aangebreek. Maar voor jy dink jy is gereed om jouself ‘n student te noem, moet jy eers van ‘n paar dinge kennis neem – soos dat universiteit baie soos hoërskool is, net heeltemal anders.

 

 

Eerstens moet jy aanvaar dat almal op kampus weet dat jy ‘n eerstejaar is: jou houding, jou gesigsuitdrukking, die manier wat jy jou hare kam en veral jou koshuisklere en Billabongtas gee jou weg.

Jy moet ook besef dat al “juffrouens” of “menere” wat daar nou is, jou seniors in die koshuis is. Die persoon wat daar voor in die lesinglokaal staan, is die meeste van die tyd nie ‘n juffrou of ‘n meneer nie, maar wel ‘n doktor of professor.

As jy in die koshuis is, is daar ? paar dinge wat jy nooit moet doen nie. Moet nooit gretig wees om jou toeter voor Sonop te druk nie. Dit laat die son oor die Sonopmanne sak en dan wil jy nie by wees nie. Manne, onthou hierdie een: moet nooit vir ‘n Erikameisie ‘n drink koop as dit nie in ‘n glas is nie. Hulle mag nie uit bottels of blikkies drink nie en dit sal jou ego net ‘n onnodige knou gee wanneer sy nie jou goedgunstige gebaar wil aanvaar nie.

Nog iets wat jou ego in een stuk sal hou, is om te onthou dat jy nooit met ‘n Magrietjiemeisie oor pienk probeer stry nie.

Hou dit ook altyd in jou agterkop dat daar verbode dinge is waaraan jy nooit mag vat nie. Dit sluit Kollege se klippe, Olienhout se renoster en Maroela se Maroolsie in. Tensy jy wil swem. Natuurlik is daar vele ander dinge waaraan jy ook nie behoort te vat nie, maar Perdeby swyg daaroor sodat jy darem iets uit ondervinding ook kan leer.

Daar is vele dinge wat jy wel moet doen. Steel ‘n jottir, gaan ry Jasmyn se olifantjie, kry ‘n Klaradyngirl om vir jou te brul, vou joolblommetjies tot jou vingers bloei, dans op ‘n tafel, steel ‘n soentjie by ‘n HK-lid of toet net vinnig en liggies voor Sonop.

Eerstejaarsindroom is iets waarvan jy eers bewus raak wanneer dit te laat is. Die eetsaal is ‘n verleidelike plek, veral gedurende eksamentyd.

? Laaste stukkie advies: onthou dat terwyl jy in die koshuis is jy veel meer as net die handboeke van jou hoofvakke leer. Dit is die tyd in jou lewe wat jy die meeste sal ontwikkel en jouself sal vind. So geniet dit. Al beteken dit jy moet jouself vir ? rukkie verloor!

Website | view posts