MAGDALEEN SNYMAN
Miskien was jy besig om `n kas reg te pak. Miskien het jou meisie kom kuier toe jou ma dit uitruk. Miskien was jy sommer in `n nostalgiese bui toe gaan soek jy dit. Jou ou foto-album huisves nie net herinneringe van laerskool konserte en jou eerste fiets nie, maar ook `n hele paar foto’s waar jy `n slagoffer van `n modegier of twee is. Perdeby het besluit om die week bietjie terug te blaai in die foto-album om seker te maak niemand maak twee keer dieselfde modefout nie.
Die fontein-poniestert het op elke meisie onder die ouderdom van tien se kop gestaan toe sy nog nie self haar hare kon vasmaak nie. Ma’s het waarskynlik hul inspirasie by die bure se water feature gekry. Hare word bo, in die middel van die kop vasgemaak en gravitasiekrag sorg dan vir `n fontein van hare wat om haar gesig bons wanneer sy loop. Vergeet van Fonteine-sirkel, jy kon in enige Graad 3 klaskamer gaan kyk in die 90’s en `n meer indrukwekkende vertoning sien.Omdie vreemde prentjie af te rond is daar ook soms gebruik gemaak van `n Scrunchie, `n dik haarrekkie van kreukellap of vals hare. Sou jy dit nog `n stappie verder wou neem, het jy moontlik iets wat amper soos `n g-string lyk gedra en dit `n bandanna genoem. `n Driehoek met twee toutjies wat om jou kop vasmaak, het geen doel nie, behalwe miskien om jou verspot te laat lyk.
`n Nare ding wat onlangs weer kop uitgesteek het in die modebedryf is skouerkussings. Is die item dalk ontwerp om trane op te vang wanneer iemand letterlik op jou skouer huil? Ontwerpers se motiewe is onduidelik, maar moenie verbaas wees as mense na jou begin verwys as Spongebob nie.
Koos Koekemoer is nie 50Cent nie, maar tog het hy daarop aangedring om die boonste helfte van sy bokser vir die wêreld te wys. Die broek is strategies in die middel van die sitvlak geplaas en dan daar met `n belt vasgemaak. Dit werk miskien vir `n musiekvideo wat ongeveer drie minute lank is, maar probeer heeldag so rondloop en jy gaan wydsbeen waggel om te keer dat jou broek afval. Perdeby sukkel ook om te glo dat dit gemaklikkan wees om jou gulp tussen jou knieë te hê. Was dit `n piesang? Was dit `n bierboep? Nee, dit was die moonbag. `n Halfmaanvormige sakkie wat om die middel gedra is. Die nare aantrek-vetrolletjie was op sy dag amper so populêr soos rolskaatse. Niemand rolskaats meer nie, hoekom die moonbag uit die kas grawe?
Net omdat Abba dit gedoen het beteken nie almalkan nie. Bellbottoms wat groot genoeg is om oor `n olifant se voet te pas, is nie vleiend op enige figuur nie. As jy wil seker maak jou ma dra nooit weer háár paar nie, gee hulle vir jou kleinboetie om as `n speeltent te gebruik.
As jy gedink het jou meisie het haar trui oor haar sykouse probeer aantrek, is die kanse goed dat sy `n paar legwarmers gedra het. Hierdie vreemde items is soos moue sonder die lyfgedeelte van die trui. Hulle word oor die enkel en kuit gedra (m.a.w. hulle steek die mooi deel van jou bene baie goed weg) en kom in `n verskeidenheid kleure soos highlighter-geel, Barbie-pienk en met al wat strikkie of tossel is daarop vasgewerk.
Gemaklik hoef nie lelik te beteken nie, behalwe toe jy Crocs gedra het. Ja, hulle is lig en gemaklik, maar jou slaapklere is ook en jy gaan dan nie daarin klas toe nie, doen jy? Die enigste tyd wanneer Crocs aanvaarbaar was/is, is wanneer jy in `n abstrakte teaterstuk `n groot cartoon-kaas speel en skoene nodig het wat die kostuum kan afrond.
In die 90’s het `n Britse popgroep meisies reg rondom die wêreld oortuig dat dit ongelooflik modieus is om vyf sentimeter langer te wees wanneer jy jou skoene aanhet. Winkels is gestormloop deur dertienjariges op platform tekkies opsoek na die nuutste SpiceGirl CD, armbande en plakkate. Voel Baby Spice nie dalk vandag `n bietjie skuldig oor die generasie geswikte enkels wat sy en haar vier vriendinne veroorsaak het nie?
So, voor jy `n kas vol kamoefleerpatrone koop of jou hare Rihanna-rooi kleur, dink bietjie hoe gou die gier sy vervaldatum gaan bereik.
Foto: Bonita Lubbe