Van Coke Kartel Resensie: Wie’s Bang

by PDBY Staff | Feb 21, 2012 | Uncategorized

JP NATHRASS

Van Coke Kartel se vierde album, Wie’s Bang, sê van die eerste noot af: ons is terug, julle beter luister. Wie’s Bang is die eerste Van Coke Kartel album wat die volledige groep insluit. Jedd Kossew en Jason Oosthuizen, wat voorheen toerlede was, laat hulle bydraes duidelik hoor met harde en vinnige dromme en kitaarsolo’s wat die res van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soos amateurs laat klink. Wie’s Bang is deur Theo Crous vervaardig en behou en verbeter op al die elemente wat Van Coke Kartel hulle unieke klank gee.

“Vir Almal”, die eerste snit op die album, herinner mens dat Van Coke se manne nog steeds hou van hulle rocker-leefstyl: harde kitare, dromme en Francois Van Coke op sy beste. Die liedjie beïndruk veral met sy komplekse kitaarsolo.

“Dis `n land” is `n verwerking van `n Carike Keuzenkamp liedjie, maar die boodskap wat weergegee word is van `n veel donkerder aard: “Dis `n land van liefde vir drank, jy is nie ek nie, ek’s jaloers op jou. Dis `n land van korrupsie en goddank.” Dit is duidelik te siene dat Francois en Wynand steeds die krake in ons samelewing sien, maar hulle hantering van hierdie temas is aansienlik anders as met hulle Fokofpolisiekar dae.

Met “Chaos” sien ons `n verskyning van Jack Parow op die album. Die liedjie voeg twee genres saam: Jack Parow se vinnige en verslawende rympies en Francois se amper desperate skree. Die lirieke van die liedjie verras egter; dis ver van Parow se normale grappe en lewer eerder sosiale kommentaar.

Wie’s Bang wys ook Van Coke se manne se sagter kant met hulle ballade: “Tot Die Son Uitkom”. Voor die vrystelling van die album is daar gesê dat die liedjie die beste liefdesliedjie is wat Suid-Afrikaanse rock ooit sal hoor. Party resensente het so ver gegaan om te sê dat dit Van Coke Kartel se eie “Stairway To Heaven” is. Weereens het hulle nie teleurgestel nie. Die lirieke en wysie is genoeg om dae by `n mens te spook.

Wie’s Bang is Van Coke Kartel op hulle beste. Die lirieke handel oor kwessies wat elke Suid-Afrikaner raak, terwyl hul musikale talent die nodige trefkrag verskaf om aanhangers meer as gelukkig te hou.

RATING: 8/10

Image provided

 

 

Website | view posts