BAREND TAUTE
Op 4 April het die universiteit se bestuur en die VSR `n vergadering gehou om die huidige klagtes rondom koshuiskos aan te spreek. Min was gefinaliseer, maar die bestuur het in `n verklaring gesê dat hulle huidiglik oorweeg om koshuiskos goedkoper te maak. Daar is ook besluit om ondersoek in te stel na “die doeltreffendheid en effektiwiteit van die eenheid van koshuisvoedseldienste”.
Die vergadering het grootliks gehandel oor die Studenteraad se voorstelle van wat verander moet word aan die huidige voedseldienste. Die voorstelle is gemik daarop om Tuks Voedseldienste op die selfde vlak te kry as ander universiteite s’n en het hoofsaaklik die volgende gevra:
- Om alle kos pryse met 16% te verminder.
- Sekere pryse by die itemverkope te verlaag
- Om die kos se gehalte te monitor.
- Om moontlik Tuks Voedseldienste uit te kontrakteer aan een of meer eksterne maatskappy.
- Om `n oudit van Tuks Voedseldienste te doen.
Volgens die VSR se kennis, het Tuks se koshuise huidiglik die duurste kos van al die universiteite in die land. In die vergadering is `n lys van kos pryse by die Mandela Metropolitan University ook gewys. By dié universiteit betaal studente R8.90 vir `n ekonomiese ontbyt en R17.70 vir `n ekonomiese aandete.
Volgens Charl Oberholzer, voorsitter van die VSR, lyk dit egter nie of die universiteit die 16% vermindering van kos pryse gaan aanvaar nie.
Die universiteit het egter besluit dat hulle dit sal oorweeg om kos pryse, asook pryse by itemverkope, te verlaag. Hulle kyk ook na die moontlikheid om die kompetisie te vermeerder sodat voedsel nie slegs deur `n monopolie-verskaffer verskaf word nie. Verder word die moontlikheid om `n paneel van student, personeellede en voedselkundiges op te stel, wat die kos se gehalte monitor, ook bedink.
Die Studente Raad het `n versoek aan die universiteit gerig om self ook `n oplossing te soek wat dan in `n volgende vergadering bespreek sal word.
Oberholzer verseker studente egter dat dié kwessie hierdie jaar afgehandel sal word.