Uit pure gewoonte

by PDBY Staff | Jul 5, 2011 | News

MAGDALEEN SNYMAN

Elke oggend wanneer jy in jou kar klim, sit jy uit gewoonte die radio aan. Jy ry verby daardie meisie wat elke oggend dieselfde roete draf. In jou eerste klas maak jy seker jy sit nie voor die ou wat altyd die stoel voor hom skop nie. Daarna drink jy in die Piazza koffie, wat jy kloksgewys roer, saam met jou vriendin wat haar kuif na elke sin uit haar oë vee.

Gewoontes definieer mense, irriteer mense en kan jou selfs help om gesonder te wees. Wanneer jy op `n sekere manier optree en `n tipe beloning daarvoor ontvang of dit jou goed laat voel, sal jy geneig wees om dit weer te doen. Hoe meer jy dit doen, hoe meer doen jy dit sonder om daaraan te dink en dit is dan wanneer jy `n gewoonte vorm.

Gewoontes vorm gewoonlik oor `n lang tydperk en is makliker om in `n vroeë stadium af te leer. Gewoontes is so uniek soos die mense wat hulle besit, maar een ding is seker – almal het `n gewoonte wat iemand anders irriteer. Perdeby het menigte mense op kampus gevra en die resultate mag jou dalk net twee keer laat dink voor jy dóén.

Wanneer `n meisie begin regmaak om iewers heen te gaan, verloor sy dikwels haar bewustheid van tyd en sou jy haar (selfs op `n mooi manier) probeer aanjaag, sal jy dalk moet koes vir `n oogpotlood of spykerhakskoen. Maar volgens ouens is om laat te wees amper so oulik soos `n jas uit die pels van `n bedreigde dier. Wees eerder betyds – dis jy wat uitmis op die partytjie, nie die mense wat jy probeer beïndruk nie. “Die ergste ding is wanneer meisies in groepies staan en giggel en nie wil sê waaroor nie,” beweer Darren Boswell, `n eerstejaar BA Tale student.

Om na een mislukte verhouding alle ouens af te skryf is ook `n nare gewoonte wat meisies het, vertel Barend Malherbe, `n tweedejaar landbouwetenskap-student. Hy sê meisies veralgemeen enige slegte ding wat `n ou al ooit aan hulle gedoen het en vergeet heeltemal van die goeie dinge.

Soveel as wat jy dit geniet om met jou volgroeide Rottweiler in babataal te praat, is dit soos `n lem op die oordromme vir die mense wat daarna moet luister. Die hele situasie word net meer pynlik as jy probeer wys hoe slim jou hond is deur hom sestien keer te vra om te sit en dan te prys asof hy geleer het om te vlieg.

“Twilight is seker die ergste,” beweer Johan Roodt. Wees eerder bly jou ou drink gewone koeldrank en is nie doodsbleek nie, as wat jy alewig praat oor of jy hierdie week Team Edward of Team Jacob is.

Ouens wat hulself in die publiek sommer net krap is een van die irriterendste gewoontes onder die son, beweer Annica Potgieter, `n tweedejaar uitgewerswese-student. Wanneer jy `n gesprek met `n meisie wil begin is dit ook nie noodwendig `n goeie idee om oor LAN te praat nie. Vir die skoner geslag is praatjies oor hierdie onderwerp soos die dreuning van `n yskas – iets wat jy uitskakel. Wanneer dit by ouens se selfoonetiket kom, is daar blykbaar `n groot gaping, vertel Leoni Maree, `n tweedejaar bemarkingstudent. “Hulle is altyd kortaf en te laat met oproepe.”

Dan is daar natuurlik voorkoms. Sommige ouens neem Snorvember en Baardmaand net té ernstig op. Drie maande later, wanneer jy soos `n Kinderbybelkarakter lyk, is niemand meer beïndruk nie.

“Ouens dare mekaar altyd goed wat vir hulle pyn veroorsaak,” sê Klarissa Stockwell, `n derdejaar ingenieurswese-student. Wanneer jy vir een bier jou armhare aan die brand sal steek, is jy tien teen een nog nie volwasse genoeg om meer as `n melkskommel te bestel nie.

As jy daardie persoon is wat in die eksamenlokaal sit en elke twee minute so hard snuif dat die vensters bewe, of elke dag vyftig status updates op Facebook maak oor hoe jy jou tee roer, is dit dalk tyd om jou gewoontes te probeer verander. In die woorde van `n Engelse Honneursstudent wat verkies om anoniem te bly: “SMS-taal op Facebook of in e-posse is die slegste gewoonte wat enige iemand kan hê.” Jy betaal nie per letter nie. Leer om te spel.

Om `n gewoonte af te leer is egter nie so maklik nie. Jy moet `n goeie rede hê waarom jy van die gewoonte ontslae wil raak, asook deursettingsvermoë en moontlik iets om die gewoonte mee te vervang. Volgens HealthTree.com kan mense wat rook byvoorbeeld elke keer wat hulle `n sigaret wil hê, `n peperment of suigstokkie suig om die gewoonte te begin afleer. Die belangrikste ding bly egter jou houding. Om op die verbetering van die gewoonte te fokus en jouself te dwing om jou gedrag te kontroleer en te verander is baie belangrik. Om `n gewoonte af te leer kan enige iets vanaf drie weke tot drie jaar neem en elke geval is uniek. Deur jouself te omring met mense wat nie heeldag Farmville speel nie, kan jou binne `n dag laat ophou om jou vriende daarmee te irriteer, maar as jy wil ophou om jou kamermaat se tandeborsel per ongeluk te gebruik wanneer jy half aan die slaap is, gaan dit dalk meer tyd en inspanning verg.

Gewoontes kan jou lewe lekkerder maak, maar dis ook belangrik om die mense om jou in ag te neem. Probeer die goeies, leer die slegtes af en hê `n bietjie begrip vir daardie vriend van jou wat alweer te laat begin leer het en nou jou hulp nodig het. Hoe makliker `n gewoonte is om aan te leer, hoe moeiliker is dit om te breek.

Foto’s: Gerhard Louw

Website | view posts