JESSICA SMIT
Vele van Suid-Afrika se sporthelde het eens by Tuks se LC de Villiers-sportgronde geoefen. TuksSport het oor die jare baie tot sportsoorte soos rugby, atletiek en sokker bygedra.
Die indrukwekkendste bydrae is tot die Springbokrugbyspan gemaak. Tuks het al meer as 70 Springbokke opgelewer, van wie die bekendstes Naas Botha en Joost van der Westhuizen is. Die suksesvolle Rugbywêreldbeker 2007-span was ryk met oud-Tukkiespelers soos Victor Matfield, Bryan Habana, Fourie du Preez, Gary Botha, Wynand Olivier, Danie Rossouw en Pierre Spies. Die nuutste Tuks-Springbokke is Chilliboy Ralapele en Morné Steyn, die skare se nuwe gunsteling. Wynand Olivier was in 2006 as TuksSport se Sportman van die Jaar aangewys, terwyl Pierre Spies dié toekenning in 2007 ontvang het.
Verder het Tuks ook menige atletiekster opgelewer. In 2009 het TuksSport vir Caster Semenya as Sportvrou van die Jaar verkies. Semenya het die 800m-wêreldkampioen geword toe sy die goue medalje by die wêreldkampioenskappe in Berlyn gewen het. Semenya is tans ‘n sportwetenskapstudent aan die Universiteit van Pretoria.
Mbulaeni Mulaudzi, wat in Berlyn ‘n silwer medalje in die 800m gewen het, is nig ‘n Tuks-atleet. Hy het in die 2004 Olimpiese Spele in Athene ook ‘n silwer medalje in die 800m gewen. Nog ‘n gewilde Tuks-atleet is LJ van Zyl, Suid-Afrika se top 400m hekkiesatleet. Oscar Pistorius, oftewel “Bladerunner”, wat talle goue medaljes by die 2008 Beijing Paralimpiese Spele gewen het, kom ook van Tuks af.
Cameron van der Burgh het in 2009 ‘n nuwe wêreldrekord in die 50m borsslag opgestel en hy is op die oomblik besig om ‘n BA Regte-graad by die universiteit te voltooi. Hy het ook die titel vir die 50m borsslag by die Wêreldkampioenskappe in Rome verower. Medeswemmer Roland Schoeman was in 2008 TuksSport se Sportman van die Jaar. Hy en Lyndon Ferns, wat deel van die 2004 Olimpiese Spele goue medalje-wenspan was, kom albei van Tuks af. Roland Schoeman oefen tans saam met die Tuks-swemspan by die TuksAquatics-sentrum.
Assupol Tuks-krieketklub bring ook jong Tuks-krieketspelers in kontak met oud-Tukkie bekendes. Jacques Rudolph, voormalige Protea, en AB de Villiers is albei lede van die klub. De Villiers is een van die Suid-Afrikaanse krieketspan se belowendste jong spelers en hy is in 2005 as TuksSport se Sportman van die Jaar verkies.
Die TuksSport-span wat die meeste in die laaste jaar behaal het, is beslis die sokkerspan, AmaTuks. Hulle is die “Giant killers” in laasjaar se Nedbankbeker genoem, omdat hulle groot spanne soos Ajax Cape Town, Bloemfontein Celtic en Kaizer Chiefs geklop het om na die finaal toe deur te dring. ‘n Paar voormalige AmaTuks-spelers wat aangehou het om naam te maak, is Lerato Chabangu en Robyn Johannes wat vir die Mamelodi Sundowns speel. Bongani Khumalo van SuperSports United kom ook van AmaTuks af.
Hierdie is maar net ‘n klein versameling van TuksSport-helde wat sukses behaal het. So ‘n goeie rekord dui aan dat TuksSport een van die hoof talentontwikkelaars in Suid-Afrika is. Hou ‘n oog op vandag se TuksSport-sterre.