MARELIZE MYERS
TuksRes se voedseldienste het op 27 en 28 September ‘n opleidings- en ontwikkelingsprogram vir sy werkers aangebied. Die tema van hierdie program het gegaan oor die skepping van ‘n werksomgewing wat van inspirasie getuig.
Hierdie program word jaarliks vir alle personeel wat by die voedseldienste betrokke is aangebied. Gassprekers of kenners op die gebied van opleiding en ontwikkeling word ook ingeroep om hul kennis oor die onderwerp te deel.
As gevolg van die lae moraal wat die Departement Voedseldienste telkens by die personeel ervaar het, is motiveringssessies by hierdie program ingesluit.Pulane Mampuru, wat help om die program te organiseer, glo in die spreekwoord wat sê: gelukkige werkers is produktiewe werkers.
Volgens Mampuru is dit die begeerte en doelwit van die Departement Voedseldienste dat die werkers gemotiveerd en produktief moet wees om aan hul kliënte – die studente en werknemers by koshuise – die beste moontlike diens te lewer.
Daar word dus aandag gegee aan kwaliteitsbeheer, onderhandelingsvaardighede, kliëntediens en higiëne. Daar word ook op spanbou, gesondheid en veiligheid gekonsentreer.
Verder is die oplos van konfl iksituasies en diversiteits- en stresbestuur ook op die lys van aspekte wat getakel word. Velde wat buite die sfeer van voedseldienste val word ook aangeraak, soos persoonlike handelsmerke.
Die essensie hiervan lê in die siening dat sukses uit jouself voortspring en dit staan bekend as die proses waardeur mense en hul loopbane as ‘n handelsmerk gereken word. Daar word ook ‘n persoonlike verhouding tussen verskaffers en werkers by hierdie opleiding- en ontwikkelingsprogram opgebou, deurdat verskaffers by werkswinkels teenwoordig is om hul produkte uit te stal. Die werkswinkel vind op 8 en 9 November plaas.
Hierdeur bewys TuksRes dat hulle nie net oor die welsyn van die studente begaan is nie, maar ook dié van hul werknemers.