MARELIZE MYERS
Op 22 Februarie het Tuks die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) ‘n pakslae gegee met ‘n finale telling van 63-36.
Nadat NMMU afgeskop het, het Tuks in die eerste vyftien minute punte aangeteken toe Ettiene Breytenbach ‘n drie gedruk het. Later het Coenraad Pieterse en Dirk Dippenaar sy voorbeeld gevolg en Tuks se telling laat klim. Maar elke keer kon Justin van Staden nie daarin slaag om die bal tussen die pale deur te kry nie. Franco Booysen van Tuks moes minute voor halftyd van die veld afgeneem word weens ‘n besering. NMMU het net voor halftyd drie punte aangeteken en die telling was teen halftyd 28-15 in Tuks se guns.
Na halftyd het Tuks nog agt punte aangeteken, waarna Dippenaar nog ‘n drie gedruk het. Tuks se Breytenbach het daarin geslaag om nog ‘n drie te druk en Van Staden het gewys wat in hom steek en die telling naby aan die 80ste minuut na 56-22 verander.
Mej. Varsity Cup 2010 was gedurende halftyd aangekondig. Petroné Snyman van Vividus Dames het met die titel weggestap, terwyl Mpho Modiba as Eerste Prinses en Carla de Jager Tweede Prinses gekroon is.
François van Wyk is as speler van die wedstryd aangewys en sal dus met die volgende wedstryd die pienk rugbybroek dra wat ter ondersteuning van die stryd teen kanker is. As jy ook ‘n goeie gebaar vir kankerlyers wil maak, kan jy jou gunsteling Varsity Cup span na 36199 SMS en sodoende ‘n R5-donasie maak.