SAMANTHA EVANS EN CHARLOTTE KEURIS
Op Maandagaand 28 Februarie het Tuks 1 teen Shimlas in Bloemfontein gespeel. Die besoekers het aanvanklik op `n goeie voet begin, maar teen die einde van die wedstryd het Shimlas vir Tuks 1 met 20-15 geklop.
Vir die manne van Pretoria het die kans om die wedstryd te wen nog goed gelyk toe hul kaptein, Wesley Dunlop, dit oor die doellyn gemaak het. Ongelukkig het die bal dit nie oor die pale gemaak nie en Tuks moes tevrede wees met net 5 punte na die eerste 7 minute.
Hierna het die Shimlas beheer geneem van die wedstryd en na twee strafdoele het hul voorgeloop met 6-5 teenoor Tuks.
Shimlas se heelagter, Shaun Davids, was presies wat die Shimlas nodig gehad het om die punte-verskil tussen hul en Tuks vinnig groter te maak. Davids het die vorige twee strafdoele verower en het die bal weer oor die pale geskop nadat flank Hanno Pieterse `n drie gedruk het.
Kort voor rustyd het die Shimlas op die aanval gegaan en hul het goeie beheer oor die bal behou. Charl Weideman van die Shimlas het `n maklike drie reg by die pale gedruk. Teen rustyd was die telling 20-5 vir die tuisspan.
In die tweede helfte het Tuks uitgekom met `n tweede asem. Al het Shimlas meer beheer oor die bal gehad in hierdie helfte, het Tuks dit reg gekry om `n paar punte te verower. Tuks se heelagter, Jurgen Visser, het daarna vir Tuks nog `n drie gedruk. Dunlop het toe sy kans geneem en het die bal oor die pale gekry. So het die telling na 20-12 gevorder met net 14 minute van die wedstryd oor.
Met net `n paar sekondes op die klok oor het Tuks `n strafdoel gekry wat Visser maklik tussen die pale deur geskop het net voor die fluitjie geblaas is. Dit het Tuks die belangrike bonuspunt gegee, omdat hulle met minder as agt punte verloor het.
Ten spyte van die teleurstellende wedstryd het kaptein Wesley Dunlop positief geklink oor die volgende drie wedstryde. “Ja, gisteraand het ons verskriklik gespeel. Dit was `n wedstryd wat ons regtig moes gewen het en ek dink ons het die ander span onderskat. Maar met die uitslae van hierdie wedstryd maak ons dit maar net interessant vir onsself. Die volgende drie wedstryde moet Tuks wen as ons dit in die halfeindrondte wil maak. Ek het geen twyfel dat ons dit kan doen nie”.
Op Maandag 7 Maart sal Tuks teen UJ speel by die Universiteit van Johannesburg. Maak seker jy is daar om ons span te ondersteun.