CHRISTIAAN BLIGNAUT
Op 8 Maart het Tuks ‘n tuisnederlaag van 23-27 teen die Universiteit van die Vrystaat (Shimlas) gely.
Die eerste wedstryd onder die nuwe beligting vir die rugbyveld was ‘n teleurstelling vir Tuks. Vanuit die staanspoor was die spel swak, met baie hanteerfoute en swak afronding. In die tiende minuut het Robbie Coetzee, Tuks se haker, ‘n geelkaart gekry, waarna Shimlas se Boom Prinsloo vanaf ‘n lynstaan gaan druk het. Die doelskop was suksesvol en Shimlas het die voortou geneem met 7-0. In die vyftiende minuut het Tuks egter teruggeslaan na Shaun Davids met ‘n paar briljante systappies oor die doellyn geduik het. Kort daarna slaag Gerhardus Smith in sy strafskop wat die telling na 10-7 opgestoot het.
Van daar af het dit gelyk of beide spanne nie hul beste kon lewer nie. Kort voor halftyd word Shimlas ook ‘n geelkaart toegedien, maar ten spyte hiervan druk die Vrystaatse span twee vinnige drieë en die halftydtelling is 19-13 in Shimlas se guns.
Die tweede helfte was gekenmerk deur swak skoppe, hanteerfoute en verbroude kanse. Tuks se dansers en gelukbringers het meer aandag as die spel self getrek. Beide spanne kon egter daarin slaag om nog ‘n drie te druk. Vyf minute voor die einde, met die telling op 27-23 in Shimlas se guns, word Beast Ndwandwa van Shimlas die derde speler om ‘n geelkaart te kry. Tukkies het hierna probeer terugveg in die hoop om die wedstryd in die laaste minute te red, maar die tyd was te min en toe die eindfluitjie blaas was die telling onveranderd.
Prinsloo, Shimlas se agtsteman, is as die speler van die wedstryd aangewys en met hierdie oorwinning kan sy span steeds hul hoop om die halfeindstryd te haal, lewendig hou. Ongelukkig vir Tuks is ‘n plek tussen die boonste vier spanne nou buite bereik en sal die span hul hoop op volgende jaar se Varsity Cup moet plaas.