LOURENSA ECKARD
Protea krieketspeler AB deVilliers was oor die naweek beskikbaar om die Tuks 1 krieketspan te help afreken met Polisie. “Dit is vir my vreeslik lekker om terug te keer na die plek waar my loopbaan begin het,” het de Villiers gese. “Die jongmanne gee my energie,” het die 26 jarige paaltjiewagter geskerts.
Tuks is eerste ingestuur om te kolf en die twee openingskolwers, Francois Le Clus en Maurice Aronston, het albei honderdtalle bereik. Volgens Leon Nel, openingsbouler en nommer drie kolwer vir Tuks, was die wedstryd ‘n goeie begin aan Tuks se seisoen.
Tuks het 460 lopies aangeteken na 60 boulbeurte en het Polisie uitgeboul vir slegs 83 lopies. Dwaine Pretorius het 7 paaltjies geneem. Volgens Paul du Toit, ‘n speler vir Polisie, was hulle strategie om die wedstryd te geniet en ‘n paar jonger spelers ‘n kans te gee om te speel.
“Ek het die wedstryd geniet, al het ons verloor, maar die hitte het my begin vang”. Volgens Nel is Tuks se goeie spelkuns veels te danke aan die nuwe afrigter, Pierre de Bruin. “Hy is baie professioneel en omdat hy self provinsiaal krieket gespeel het, is die regte strukture in plek”.
De Villiers is tans besig om te herstel van ‘n besering wat hom twee en ‘n half maande uit aksie gesit het. “Dit kom maar van jare se wear en tear,” het hy bygevoeg.
Hy hoop egter om die seisoen wat voorlê voluit aan te pak en gereeld vir die Proteas te speel. “Party ouens gaan speel oorsee krieket, maar in die af seisoen hou ek daarvan om bietjie ‘n breek van krieket neem”.
Tuks sal weer teen Polisie te staan kom in die liga wat voorle, waar elke span mekaar twee keer speel. Dit is egter duidelik dat Tuks met mag en mening die seisoen aanpak en soos wat hulle vertoning teen Polisie illustreer, gaan die seisoen propvol aksie en opwinding wees.