Die nasionale klubkampioenskappe het vanaf 19 tot 23 September plaasgevind. Die week lange toernooi het talle klubkrieketspanne van reg oor die land byeengebring in `n stryd om die beste klubkrieketspan in die land te bepaal. Tuks 1 het hul veldtog op Maandag, 19 September by die TUT Cricket Oval teen die Crusaders (KZN) afgeskop. Tuks het die loot verloor en is sodoende deur die Crusaders ingestuur om te kolf. Alhoewel Tuks goed gespeel het, het hul die wedstryd in die laaste boulbeurt verloor. Die manne van Pretoria het 277/8 in hul 50 balbeurte aangeteken en die wedstryd met 4 paaltjies verloor. Ten spyte van die nederlaag het die Tuks 1 afrigter, Pierre de Bruyn, gesê dat hy gelukkig was met die span se vertoning. “Ons het heeltyd geweet dit gaan `n moeilike stryd wees.” De Bruyn het bygevoeg dat dit `n “bitter pil was om te sluk” om te verloor na al die harde werk en voorbereiding vir die toernooi, maar dat die manne goeie individuele bydraes gelewer het. Tuks se indrukwekkende vertonings in die wedstryd het van die kolf van Leon Nel gekom. Hy het `n 107 in 110 balle aangeteken. Nog `n ster in die Tuks-span was Francois le Clus wat 75 uit 91 balle aangeteken het. De Bruyn het die Crusaders se wen toegewys aan die drie provinsiale spelers, Kyle Abbott, Vaughan van Jaarsveld en David Miller wat in hulle span is. Al drie het goeie vertonings met die kolf gelewer. Abbott het `n 58 aangeteken, wat `n vyftigtal vennootskap met Van Jaarsveld ingesluit het. Die vennootskap was kort daarna gebreuk, wat Miller na die kolfkampie gebring het. Van Jaarsveld en Miller het verder bygedra met `n 84 lopie vennootskap van 97 balle. Miller se paaltjie is vir 35 deur Rickus Weideman geneem. Van Jaarsveld het tot die einde van die Crusaders se kolfbeurt gekolf, en het op 114 geëindig, wat 10 grenshoue ingesluit het. Tuks se tweede wedstryd is op 20 September teen Vrystaat (CUT) op die Tuks Cricket Oval gespeel. Tuks het die wedstryd met 108 lopies gewen en sodoende `n bonuspunt verseker en ook verbeter op die vorige dag se spel. Tuks se kaptein en openingskolwer, Maurice Aronstam, is as speler van die wedstryd aangewys. Hy het die hele kolfbeurt gekolf en 107 lopies uit 138 balle aangeteken. Hy het ook goed geboul en 6 paaltjies in 8.2 boulbeurte verower en net 31 lopies afgestaan. Aronstam het na die wedstryd gesê dat hy beïndruk was met sy spel en sy span se vertoning. “Dit was lekker om terug te kom met `n oorwinning.” Hy was in `n 154 vennootskap met spanmaat Graeme van Buuren. Beide spelers het verseker dat Tuks `n telling van 243/7 in hul 50 boulbeurte aangeteken het. Van Buuren het bygedra met `n telling van 82 lopies uit 95 balle. Na die wedstryd het De Bruyn gesê dat die vertoning van Tuks “klinies en professioneel was.” Tuks het Woensdag en Donderdag hul wedstryde met bonuspunte gewen. Hulle het Woensdag 256 aangeteken vir die verlies van vyf paaltjies en het Boland vir slegs 150 uitgeboul. In Donderdag se wedstryd teen WP het Tuks hul teenstaanders vir `n 114 uitgeboul en hulle het die telling bereik met net drie paaltjies kwyt. Hierdie is die resultate wat met druktyd beskikbaar was.

Website | view posts