Tuks se eie Spiderman

by PDBY Staff | Apr 28, 2010 | Sports

CHRISTIAAN BLIGNAUT

Hy is Kenji Murapa, ‘n free runner. As jy al voorheen Madonna se video Jump gesien het, sal jy dalk weet wat hierdie unieke sportsoort behels. Tydens free running of parkour, soos dit ook bekend is, probeer ‘n persoon om so vinnig as moontlik ‘n roete tussen geboue te vind. Deur te klim, spring en rol gebruik die persoon sy/haar liggaam om enige hindernisse soos geboue, mure en tralies te oorkom.

 Free running het in Frankryk ontstaan en is deesdae ook gewild in Engeland en die Verenigde State.  Al het Dane Grant dit sewe jaar gelede in Suid-Afrika begin is die sport nog relatief onbekend en aan die ontwikkel. Murapa, ‘n Tuks-student, het die eerste keer met hierdie besonderse sportsoort te doen gekry toe hy dit op YouTube gesien het. Hy was onmiddellik geïnteresseerd en het by die Suid-Afrikaanse parkour-span aangesluit. 

Vandag is Murapa die kaptein van sy eie span wat lede in Pretoria, Johannesburg en selfs Australië het. Saam oefen hulle aan hul fiksheid en ratsheid sodat hulle vinniger oor versperrings kan beweeg. Murapa se gunstelingoefenplek is die Hatfield-kampus, maar hy oefen graag ook in Centurion en Johannesburg. Murapa sê dat dit sy droom is om eendag internasionaal deel te neem. Tans wil hy hom eers daarop toespits om Suid-Afrikaners van die sport bewus te maak en hulle daarby te betrek. “Die sport is baie voordelig vir ons land en sy mense, want dit hou jou fiks en maak jou bewus van die omgewing,” het Murapa gesê.

Murapa glo dat free running ‘n unieke en bevredigende sport is en hy moedig studente aan om te kom kyk wat hy en sy span doen en betrokke te raak.

Website | view posts