MARI-LOUISE DE KOCK
Die finale rondte van die Steinhoff Tuks rugby liga is op Dinsdag 30 Augustus by LC de Villiers gespeel. Mopanie, Onderstepoort en Boekenhout, asook die fakulteitshuis Ebit het hard gespeel in die hoop om die liga-titels van hul onderskeie ouderdomsgroepe te wen.
Mopanie se eerste span het Onderstepoort, verlede jaar se ligawenners, met 24-10 geklop. Onderstepoort se buitesenter, Keith Ross, het gesê: “Ons was eenvoudig net nie klinies genoeg nie en ons het nie die bal vir genoeg fases behou om `n effektiewe aanval te maak nie.”
Die wenspan se buitesenter, Johan van Wyk, wat ook gekies is as die speler van die wedstryd, het gesê dat Mopanie se eerste span baie tevrede met hul spel was. Die spankaptein, Christo Basson, het dankie gesê aan “al die Mopanie ondersteuners wat week na week goed ondersteun het en die Mopanie-trots wat die spelers gewys het, asook die afrigters, sonder wie niks moontlik sou wees nie.”
Alhoewel Mopanie se eerste span geseëvier het, het hul tweede span en o/20-span nie dieselfde geluk gehad nie. Die tweede span het 3-6 teen Ebit verloor, wat Ebit die nuwe ligawenners in hul ouderdomsgroep maak. “Die verloor was baie sleg gewees en ons was teleurgesteld,” het Mopanie se tweede span stut, Kobus Erasmus, gesê. Erasmus het verder kommentaar gelewer en die wedstryd as `n “harde wedstryd” beskryf. Hy het ook gesê dat Ebit se span “goeie opponente” was om teen te speel.
Boekenhout hou hul koppe hoog as die o/20-ligawenners. Hulle het Mopanie met 14-11 getroef. Boekenhout se agtsteman, Morné (Stifler) Botha, het gesê: “Ons het vir hierdie oomblik gewag … onskanverlede jaar agter die rug sit en ons was in beheer om die finale stap te neem.”
Na die wedstryde het die koshuise hard gekuier om hul prestasies te vier. Van Wyk het hierdie kuiers in `n paar woorde goed opgesom deur te sê dat sy koshuis die volgende oggend maar baie stil was.