ALBRECHT GEYER
Die eerste Jannie Jansen Internasionale Kompetisie het van 3 tot 4 Maart by die Universiteit van Pretoria se Rembrandtsaal plaasgevind, waar 66 atlete van regoor Suid-Afrika asook die buiteland deelgeneem het. Die kompetisie het uit trampolien-, dubbel-mini-spring en tuimel bestaan en het ‘n junior- en seniorafdeling gehad.
Weens die feit dat die byeenkoms in sy eerste bestaansjaar is, was daar net ‘n handjievol oorsese atlete wat aan die kompetisie deelgeneem het. Tog het die Brasilianer, Bruno Martini, die goue medalje voor die neus van Lucky Radebe weggeraap toe hy ‘n gekombineerde telling van 71.50 in die dubbel-mini-spring vir seniormans behaal het. Radebe, ‘n Tuks-gimnas wat tans‘n eerstejaarstudent in Sportwetenskap is, het die tweede posisie beklink met ‘n telling van 69.40. Monique Mienie, wat ook tans by die UP studeer, het ‘n derde plek in trampolienspring vir seniorvroue behaal en ‘n belowende JuniorTukkie, Sean Botha, het alle verwagtinge oortref toe hy ‘n bronsmedalje vir trampolienspring in die seniorafdeling verwerf het.
Frankryk se Sebastien Martiny en Gregoire Pennes het onderskeidelik die eerste en tweede plekke vir trampolienspring in die mans se seniorafdeling behaal, maar die Suid-Afrikaners het die juniorafdelings in beide die mans- en vrouekategorieë oorheers.
Suid-Afrika se nommer een gekeurde op die nasionale ranglys, Strike Nkuna, was die gunsteling uit die plaaslike groep van jong gimnaste om die goue medalje vir trampolienspring te verower. Hy het egter ‘n ernstige kniebesering opgedoen toe hy tydens ‘n uitdagende roetine van die trampolien afgeval het en moes noodgedwonge uit die kompetisie onttrek.
Nkuna het getuig dat dit die eerste keer in sy loopbaan was dat hy ‘n besering van sulke aard beleef het: “Ek het myself met ‘n sprong misgis en kon nie my balans in die lug behou nie. Ek het dadelik besef dat ek nie op die trampolien sou land nie en was net gefokus om nie die grond met my kop of rug te tref nie.” Nkuna het vier steke in sy knie gekry en was duidelik teleurgesteld dat sy deelname aan die kompetisie op so ‘n hartseer noot geëindig het.
Die Suid-Afrikaanse Gimnastiese Federasie (SAGF) se doel met die byeenkoms was om meer Suid-Afrikaanse gimnaste aan internasionale standaarde van mededinging bloot te stel met die hoop om toekomstige olimpiese gimnaste te ontwikkel. Die kompetisie is vernoem na die legendariese trampolienspringer, Jannie Jansen, wat baanbrekerswerk vir sy geliefde sport in sy leeftyd verrig het.