Tuks kwalifiseer vir semi-finale

by PDBY Staff | Mar 30, 2011 | Sports

COBUS COETZEE EN MARI-LOUISE DE KOCK

Ten spyte daarvan dat FNB Tuks op Maandag 21 Maart hul wedstryd teen die Universiteit van Kaapstad (Ikeys) op LC de Villiers verloor het, het Tuks met `n bonuspunt hul plek in die semi-finale van die Varsity Beker verseker.

Tuks het 17-19 verloor, maar het drie drieë teenoor die een van Ikeys gedruk. Die verskil was egter die skopskoen van Ikeys se Demetri Catrakilis. Catrakilis se vier strafskoppe en `n vervyfskop het 14 punte vir sy span aangeteken. Tuks se kaptein en losskakel, Wesley Dunlop, het egter slegs een suksesvolle poging pale toe gehad.

Volgens Dunlop, het sy span gesukkel om met struktuur te speel en was hul koppe net nie in die wedstryd nie.

Slot Franco Mostert van Tuks sal weer in die pienk broek te siene wees nadat hy vir die tweede agtereenvolgende week as die man van die wedstryd aangewys is.

Die eerste helfte het 7-6 in Tuks se guns geëindig, maar hanteerfoute het hul uiteindelik die wedstryd gekos. Tuks moes 57 duikslae in die eerste 40 minute uitvoer en het nege strafskoppe afgestaan. Ikeys het slegs 16 duikslae uitgevoer en drie strafskoppe afgestaan.

“Ons moes net die bal gehou het, dan sou ons die wedstryd gewen het,” het heelagter Andries Coetzee gesê. Coetzee meen dat die span se vertoning goed was, maar dat hulle teleurgesteld is omdat die span nie hul bewegings kon afrond nie.

Die meerderheid van die tweede helfte het aan Tuks behoort, wat goeie druk op Ikeys geplaas het. Tuks het 14 minute voor die eindfluitjie voorgeloop, totdat buitesenter Marcel Brache vir Ikeys `n drie naby die pale gedruk het. Catrakilis het Ikeys vir die eerste keer in die wedstryd laat voorloop en het deur sy vervyfskop die telling op 19-17 laat staan.

Hoofarigter Nollis Marais het slegs een verandering aan die span gemaak wat twee weke gelede Maties met 27-13 geklop het.

Die wedstryd tussen Maties en UJ wat later die aand in Stellenbosh sou plaasvind, was van kardinale belang vir Tuks. As Maties die wedstryd gewen het, sou dit beteken dat Tuks nie in `n semi-finaal in vanjaar se Varsity Beker kon speel nie. UJ het egter vir Maties met 39-19 geklop en so verseker dat Tuks `n plek in die semi-finale het.

Albei semi-finale vind op 28 Maart plaas, die eerste wedstryd tussen Ikeys en Shimlas om 16:45 by die Groote Schuur stadion, en die tweede wedstryd tussen UJ en Tuks om 19:00 by UJ se tuisgronde.

Website | view posts