JESSICA SMIT
Die Tuks 1-rugbyspan het Maandag, 15 Februarie, vir die eerste keer in vanjaar se Varsity Cup met ‘n oorwinning huis toe gegaan. Tuks het die wedstryd teen die TUT Vikings, wat op die TUT gronde gespeel is, met ‘n eindtelling van 42-30 gewen.
Die wedstryd het goed vir TUT begin toe Jaco Oosthuizen met twee strafskoppe die eerste punte aangeteken het. TUT het in beheer van die wedstryd gebly toe hul vleuel, Thabo Motau, ook die eerste drie van die wedstryd aangeteken het. Te danke aan ’n paar strafskoppe wat afgestaan is en ‘n geelkaart wat vir Braam van der Merwe gewys is, het Tuks teen halftyd TUT se voorsprong na net 14-12 vernou het.
Met die begin van die tweede helfde het TUT weer vir Tuks laat sweet toe Juan-Phillip Pike binne die eerste minuut ‘n drie gaan druk het. Nie lank daarna nie het TUT nog ‘n speler vir 10 minute aan die koelkas verloor en Tuks het twee drieë gedruk – dit te danke aan heelagter Gert Smith en slot Tiaan Nel. Gert Smith het ook Tuks se enigste geelkaart van die wedstryd kry. Daarna het dinge nog verder skeef geloop vir TUT toe die skeidsregter hulle kaptein, Emile Verster, van die veld afgestuur het. Verster is ‘n rooikaart gewys omdat hy een van die skeidsregter se besluite bevraagteken het. ‘n Totaal van vier kaarte was gedurenden die wedstryd aan TUT gegee. Die laaste een was ‘n geelkaart aan Hansie Graaff. Tuks-senter, Franco Booysen, het toe in die laaste minuut met ‘n drie die wen vir Tuks in die sak gebring.
Volgens TUT se hulpafrigter, Jimmy Watt, het die Vikings die wedstryd verloor as gevolg van hulle swak dissipline. Watt meen dat die Vikings hulle eie grootste vyande was en dat dit amper selfmoord is om vier kaarte te kry.
Tuks het nogtans ‘n paar sterre gehad soos Justin van Staden en Shaun Davids wat deur hoofafrigter Freddie Grobbelaar vir hulle goeie spel uitgewys is. Justin van Staden was ook aangewys as speler van die wedstryd met ‘n skoprekord van 10 uit 10 en ‘n totaal van 27 punte. Oor die wen het Grobbelaar gesê: “Die belangrikste is dat ons gewen het … Niemand behoort in elk geval oor ‘n oorwinning te kla nie, hoe krom en skeef ook al.”