MARICELLE GOUWS
“As gimnastiek maklik was, het ‘n mens dit rugdy genoem.” Hierdie woorde lê Tukkies se gimnastiekspan baie na aan die hart, want deur harde werk, dissipline en deursettingsvermoë bereik hierdie span deurgaans groot hoogtes.
Tukkies se gimnastiekspan, bestaande uit 11 mans en agt dames, het op 5 Julie aan die USSA kampioenskappe by die Universiteit van Kaapstad deelgeneem. Hulle is deur die spanbestuurder, Louis Fourie, en trotse afrigter, Rohan Lloyd, vergesel.
Die Tuks gimnaste het in totaal 21 goue, 24 silwer en 18 brons medaljes onder die ander spanne se neuse weggeraap. Hierdie medaljes is in die afdelings Ritmiese Gimnastiek, Artistiese Gimnastiek, Mini Trampolien en Swarttop Trampolien toegeken.
Die span het ‘n algehele derde plek tydens die byeenkoms behaal. Die span se puik prestasie het Tuks se naam aansienlik hoog gehou. Die USSA, wat jaarliks aangebied word, gun gimnaste die geleentheid om lewenslange en onvergeetlike vriende reg oor die wêreld te maak.
Odette Richards, ’n Suid-Afrikaanse ritmiese gimnas wat in 2008 aan die Olimpiese Spele in Beijing deelgeneem het, was ook by hierdie byeenkoms teenwoordig. Tukkies se gimnaste oefen regdeur die jaar ongelooflik hard om hulle hempsknope van trots te laat los spring.
Hulle nooi graag almal wat in Richards se spore wil volg om by Tuks Gimnastiek te kom aansluit. Oefeninge vind elke Dinsdag en Donderdag vanaf 18:00 tot 20:30 by LC de Villiers Sportgronde, saal nommer 6, plaas. Almal wat by hierdie suksesvolle span wil aansluit is baie welkom.