CHARLOTTE KEURIS
Caster Semenya het Tukkies baie trots gemaak toe sy ‘n nuwe SA senior baanrekord vir die 800m vroue-item opgestel het. Semenya het ‘n wentyd van 1:56.72 minute by die Afrika Junior Kampioenskapsbyeenkoms in Mauritius behaal.
Die junior Tuksatleet het op 31 Julie amptelik die vinnigste vrou ter wêreld vanjaar in hierdie item geword. Na haar indrukwekkende vertoning is Semenya nou onder die voorste 20 atlete van die afgelope twee dekades in die 800m. Danksy haar wentyd het Semenya die rekord van Zola (Budd) Pieterse gebreek wat tot nou toe al vir 18 jaar gestaan het. S
y het ook al nader aan die Afrikarekord, wat tans deur Pamela Jelimo (1:54.01 minute) van Kenia gehou word, beweeg. Semenya glo dat sy ‘n beter tyd in die wedloop sou opgestel het as dit nie vir die sterk wind van voor af was nie.
Nog ‘n Tuksatleet wat onlangs presteer het, is LJ van Zyl. Hy het op 28 Julie by ‘n Grand Prix byeenkoms in Monaco die 400m hekkies gewen. Sy uitstekende wentyd van 47.94 sekondes was nie alleenlik sy persoonlike beste nie, maar was ook die vinnigste tyd vanjaar.
Van Zyl is verlig dat hy uiteindelik gewen het en voel dat dit een van sy beste vertonings ooit was. Die 24-jarige atleet is slegs die tweede Suid-Afrikaner om die 48 sekonde-grens vir die 400m hekkies te breek. Van Zyl het ook nog laasjaar by die Olimpiese Spele vyfde plek in die 400m hekkies gekry. Te danke aan Van Zyl se prestasies word hy nou as Tukkkies se goue seun van atletiek beskou.
Die bestuurder van TuksAtletiek, Hennie Kriel, is baie in sy skik met Semenya en Van Zyl se prestasies. Hy glo dat albei Tuksatlete by die Wêreldbyeenkoms, wat op 16 Augustus in Berlyn begin het, met medaljes sal kan wegloop. Ons kan defi nitief nog baie meer van hierdie twee Tuksatlete in die toekoms verwag. Nog ‘n prestasie vir TuksAtletiek is dat drie van die SA senior rekords hierdie jaar deur Tuksatlete opgestel is.