IRANDA ERASMUS
Op 24 September het nege koshuise hulself gestaal vir ‘n deurnag-busrit na Stellenbosch. Inwoners van Asterhof, Klaradyn, Nerina, Erika, Vividus mans en dames, Maroela, Kiaat en Olienhout kon sedert die begin van die jaar kwalik hul opgewondenheid beteuel aan die vooruitsig van ‘n volle week in Stellenbosch gedurende die Septembervakansie.
Die uitstappie was veronderstel om ‘n treintoer te wees, maar weens die onlangse stakings in die publieke vervoersektor, is die treine op die laaste nippertjie met busse vervang.
Alhoewel die student sonder lugverkoeling, toilette of verskuifbare sitplekke moes klaarkom, en daar kwalik plek vir al die bagasie was, het die bus darem met ‘n voorraad alkohol – geborg deur Herr Gunter’s – opgedaag.
Wat gevolg het was twintig ure van liedjies sing, ‘drinking games’ en nood toiletstoppe. Die studente het die eerste dag op die strand deurgebring en dieselfde aand is ‘n bingo-spel in een van die kuierplekke deur Maroela en Asterhof op horings geneem.
Die Maandag het die studente hulself tot meer ernstige dinge gewend en bekende wynplase soos Beyerskloof en Spier oorval. Selfs ‘n brandewynplaas is besoek en met twee gratis shots en verdere proe-sessies teen R30 elk het die studente met ‘n ekstra wip in hul stap die aand na die dorp teruggekeer.
Die geleentheid om ‘n drie-uur lange treinrit na Kalkbaai te onderneem is nie van die hand gewys nie. Gedurende die drie ure het talle studente hulself tussen eerste- en derdeklas verskuif. “Daar was ‘n baie eienaardige man wat ‘n tas met slegs ‘n ou gebreekte telefoon, ‘n plastiese krokodil en ‘n ou internetkonneksie-draad in, by hom gehad het.
Ek het werklik so baie buitengewone dinge ervaar op die toer,” vertel Stacey Jedlinski, ‘n inwoner van Asterhof. Die res van die week is toegewy aan die verkenning van die studentedorp met sy vele kuierplekke en studentevermaak.
Teen Vrydag het die moeggekuierde groepie maar weer hul tasse gepak en met ‘n paar ekstra bottels wyn die lang pad terug huis toe aangedurf.