Tukkies neem die (groen) inisiatief

by PDBY Staff | Feb 17, 2010 | Uncategorized

MARELIZE MYERS

 

Die inwoners van TuksVillage het op 23 Januarie met ‘n veldtog begin om omgewingsbewustheid by studente te kweek.

Die entoesiastiese groep “Groentjies” het op ‘n Saterdag by die Hillcrest-woongebied weggespring en begin om die strate skoon te maak. Daarna het hulle rondom Hatfield Square gesorg dat daar nie eers ‘n enkele bierblikdoppie rondlê nie. Sommige van die eerstejaars – wat kop onderstebo in die tuin rondeskrop het op soek na strooisels – het gelyk of hulle eerder op ‘n skattejag is. As jou gewete jou enigsins pla oor die drankbottel of plastiekglas wat jy per ongeluk daar “gebêre” het, kan jy nou, danksy TuksVillage, rustig slaap .

Om agter ander mense skoon te maak is beslis nie ‘n benydingswaardige taak nie. TuksVillage het egter gewys dat dit met die regte gesindheid wel moontlik is om dit te geniet. Terwyl ons gedurende die Jool aan die gemeenskap dink, doen Perdeby ‘n beroep op sy lesers om ook die omgewing in gedagte te hou.

Om omgewingsvriendelik te wees behels ‘n doelbewuste nadink oor die gevolge van ons leefstyl. Dit vra van jou dat jy help om menslike impak op die natuur te beperk. Maar ontspan! Begin klein. Of jy nou ‘n vleisie in ‘n park braai, jouself by ‘n rockkonsert verloor en of jy jou tussen die massas mense in die Square bevind: reik na ‘n asblik en volg die voorbeeld wat TuksVillage vir ons stel.

Website | view posts