SUEGNE KILIAN
Op 28 Januarie is die Joolkoningin vir 2010 in die Aula aangewys. Jason Greer van Idols-faam en Tanya van Graan was die beoordelaars. Die aand het met ‘n dansvertoning afgeskop. Nóg ‘n Idol, Graeme Watkins, en Jamali “Mzanzi” het die vermaak verskaf. ‘n Modeparade met ontwerpe van ME! is daarna gehou.
Die prys van “Ms Executive” het aan Adré Swart gegaan en Simone Krause is as Mej. Persoonlikheid aangewys. Karien Pelser is as 1ste Prinses gekroon. Die nuwe Joolkoningin is Azèl van Zyl, ‘n vierdejaar LLB-student.
Perdeby het die geleentheid gehad om ‘n onderhoud met die lieflike nuwe koningin van 2010 te voer:
Wat dink jy oor die algemeen van skoonheidskompetisies?
Ek dink die doel van skoonheidskompetisies het verander wat dit beter maak. Die doel is nou om dit vir liefdadigheid te kan doen.
Hoe het jy gevoel toe hulle jou naam uitgeroep het as die nuwe Joolkoningin ?
Beslis geskok, ek kon dit nie glo nie. Ek het dit nie verwag nie.
Het jy soms moedeloos geword?
Ja, dit is nooit maklik om te vra vir geld nie. Een uit tien mense sê ja en hou jou soms baie aan ‘n lyntjie wat frustrerend is.
Watter eienskappe dink jy behoort ‘n Joolkoningin als te hê?
Uithouvermoë, passie vir liefdadigheid en beslis geduld.
Wat was die heel lekkerste van die hele kompetisie?
Vreklekker byeenkomste en projekte.
Wat was die slegste deel van die hele kompetisie?
Mens word net moeg en uitgeput die laaste ruk en die oefening met die hoëhakskoene.
Wat het jy als uit die kompetisie geleer?
Ek het geleer dat ek baie daarvan hou om met kinders te werk, hou daarvan om nuwe mense te ontmoet, geleer hoe om met besighede te werk en het selfvertroue gekry om met mense met ‘n hoë gesag te kan praat.
Wat is jou mening oor die sokker wat die jaar afskop?
Ek dink dit is ‘n baie goeie ding vir die land se ekonomie. Dit sit ons land weer terug op die map en wys vir die ander lande ons is nie net hier met leeus en ape nie en hulle kan sien hoe mooi ons land werklik is.
Beplan jy om na die sokker te gaan kyk? Hoekom?
Ja natuurlik. Ons het ‘n stadion daar in Nelspruit waar ek gaan kyk. Ek het nog nie kaartjies nie, maar sal graag na Brasilië wil gaan kyk.
Wat sou jy doen as jy iets in Suid-Afrika kon verander?
Die onderrig in skole verbeter en kinders wat dit nie kan bekostig nie ook skool toe stuur. Nuwe projekte aanpak wat werk sal skep.
Het jy enige vrese gedurende die kompetisie gehad?
Definitief aan die einde: die hoëhakskoene! En ek was baie senuweeagtig.
Wie is jou gunsteling-president tot dusver en hoekom?
Na ek die fliek Invictus gekyk het, sal ek sê Nelson Mandela. Ek het ‘n ander perspektief gekry van wat hy alles vir ons land gedoen het.
Wat is jou opinie oor Suid-Afrika op die oomblik?
Ek hou baie van die land maar ek voel iets moet gedoen word aan die veiligheid.Padwerke vir die sokker is beslis ‘n probleem.