COBUS COETZEE

Heinrich Barnes (24) het op 23 Mei as deel van die Suid-Afrikaanse Senior span na die Afrika Senior Stoeikampioenskappe in Senegal vertrek. Perdeby het kans gekry om met hom te gesels by `n oefenkamp in Pretoria. `n Hongaarse toerspan het in Suid-Afrika kom oefen, en die SA Senior span het van die geleentheid gebruik gemaak om internasionale oefening te kry, iets wat nie gereeld gebeur nie.

Alhoewel Barnes tans in Amerika stoei en oefen, is hy steeds geaffilieer by TuksStoeiklub, en is dit waar hy as kind geleer stoei het. Wanneer hy nie in sy nasionale hoedanigheid deelneem nie, verteenwoordig hy steeds Tuks.

Die Senior span het die afgelope naweek aan die Oos-Gauteng Ope deelgeneem ter laaste voorbereiding vir hul toer.

Waar het jou belangstelling in stoei begin?

Toe ek so ses of sewe jaar oud was het ek en my broer met mekaar gestoei, en toe het my ma ons laat stoei vir oefening en ek het dadelik baie daarvan gehou.

Hoe lank stoei jy al?

Ek stoei al vir 18 jaar.

Hoe het Tuks bygedra tot jou ontwikkeling en sukses?

TuksStoei het my ondersteun toe ek besluit het om Amerika toe te gaan, die afrigters en bestuur was daar vir my en het elke nou en dan finansieël bygedra en emosioneel ondersteun.

Wat behels jou oefenprogram?

In Amerika oefen ons vyf tot ses dae per week, vier ure totaal in twee sessies per dag. In die oggende is dit baie keer gymwerk of fiksheid vir `n uur en `n half lank, en in die middae is dit grootliks maar stoeitegnieke en ook stoei-oefening self vir twee en `n half ure.

Wat is jou kort- en langtermyn doelwitte?

My korttermyn doelwit is om die Senior Afrika Kampioenskappe te wen en om dan Wêreldkampioenskappe toe te gaan en daar te presteer.

My langtermyn doelwit behels om vir die 2012 Olimpiese spele te kwalifiseer, en om daar `n medalje los te stoei.

Wie is jou rolmodel?

In stoei self moet ek sê dat Bennie Labuschagne [steeds TuksStoei se hoofafrigter] nog altyd my rolmodel is, toe ek `n klein stoeiertjie was, was dit vir my ‘n groot eer om deur `n Olimpiese kampioen afgerig te word.

Buite stoei moet ek sê my dat dit my ouers is, hulle ondersteun my geweldig baie.

Wat is jou beste prestasie tot dusver?

Defnitief die sewende plek [uit 35 deelnemers] wat ek in die Senior Wêreldkampioenskappe in Moskou gekry het, en dan ook om `n tweede plek in die afgelope Commonwealth Games in Indië te kon kry. Verder ook om aan die 2008 Beijing Olimpiese Spele te kon deelneem.

 

Website | view posts