MARELIZE MYERS
Klaradyn het hul eie TV-persoonlikheid in hul midde. Meghan Clack, ‘n eerstejaar in dié dameskoshuis, is te sien in ‘n splinternuwe realiteitsprogram genaamd Matriekjol.
Matriekjol volg vier matriekmeisies wat hul matriekvakansie saam spandeer. Sommige sal hierdie program as MK se Matrix herken. Matriekjol is inderdaad net ‘n nuwe baadjie vir Matrix. Die program word egter hierdie keer ‘n bietjie anders aangebied. Volgens Clack het sommige lede van die publiek Matrix as ‘n bespotting van die deelnemers gesien. Matriekjol wil hierdie siening graag verander. Dit het tot gevolg dat baie sensasie-belaaide beeldmateriaal nie deel vorm van dit wat uiteindelik uitgesaai word nie
Clack beskryf die televisie-ervaring as ‘n gelukskoot. Nie net is alles verniet nie, maar die vervaardiger van die program, Laurie Botha, het haar self genader om op die reeks te verskyn. Clack is oorspronklik van Brits en is tans ‘n eerstejaar multimediastudent by Tuks.
Die reeks is oor elf dae geskiet met tien episodes wat sorg vir baie opwinding.
Clack en die drie ander deelnemers doen onder meer aktiwiteite saam met bekende gaste soos die sangers Anro Jordaan en Jakkie Louw, saam met wie hulle inkopies gaan doen het. Ander aktiwiteite sluit branderplank- en olifantry in.
Tog is dit onafwendbaar dat ‘n huis met vier meisies ‘n paar skandale gaan oplewer. Die bekende gaste het telkens self daarop gewys dat sommige van die meisies katterig en krapperig raak. Quentin Prinsloo, nog ‘n Afrikaanse sanger, het selfs gesê dat hy “nie lekker met Meghan gebond het nie”. Clack het egter hierop gereageer deur te sê dat Prinsloo die aand dronk was en by haar aangelê het en toe kwaad geword het toe sy vir hom nee sê. Op die episode van 19 Julie het die konflik ‘n klimaks bereik toe een van die meisies meen Clack is disrespekvol teenoor ouer mense. “’n Mens hanteer sommige situasies verkeerd, maar ‘n mens leer baie uit jou foute,” was Clack se kommentaar. Met groot pryse op die spel is dit seker die moeite werd om vure op nasionale televisie aan te steek en weer te moet doodslaan.
Die publiek kan vir hul gunsteling- deelnemer van Matriekjol stem deur bloot ‘n SMS te stuur. “Almal verdien om te wen, want almal het ewe veel moeite gedoen om die reeks ‘n sukses te maak,” het Clack gesê.
Matriekjol word Maandae om 19:30 op die nuwe kanaal, Afrikaanse Satelliettelevisie (ASTV), uitgesaai.