Troukoors: nou of nooit?

by PDBY Staff | Jul 25, 2011 | News

MAGDALEEN SNYMAN

Is jy een van daai mense wat dink wit laat jou vet lyk, wat nie kans sien vir `n Cruella de Vil-skoonma nie en wat in koue sweet uitslaan op die eerste note van die troumars? Jy is nie alleen nie.

Volgens onlangse studies deur die BBC is trou so uit die mode soos `n jas uit die pels van `n bedreigde spesie. Nie moeilik om te glo wanneer studies wys dat vier uit elke tien huwelike in `n egskeiding sal eindig nie. Wanneer die egskeiding bonop met die kliek van `n muis verkry kan word, is die statistieke in sekere lande glad nie verbasend nie.

Volgens die skrywer en redakteur, James Walsh, is die idee van `n huwelik nie meer populêr nie as gevolg van die gejaagde wêreld waarin ons lewe. Walsh beweer dat mense deesdae ongeduldige lewens lei en dat `n suksesvolle beroep hulle weerhou om die emosionele gewig van `n huwelik te wil dra. Mense maak nie meer keuses wat die res van hulle lewens bepaal nie, hulle verkies `n buigbare toekoms.

Die finansiële verantwoordelikheid sit baie mense ook af. Die dae van jou maand se salaris in een naweek saam met vriende wegpartytjie en dan die volgende drie weke van tuna op provitas leef, is verby, want jy het `n verantwoordelikheid teenoor iemand anders. Walsh beweer verder dat sommige mense voel hulle seksualiteit word beperk deur net een maat vir die res van hulle lewens te hê. Saambly, “commitment seremonies” en langafstand verhoudings oor die internet is nie net modieus nie, maar ook meer prakties vir baie paartjies regoor die wêreld.

“Mens hoef nie meer te trou nie, jy kan saambly. Dis amper soos `n toets om te kyk of trou ooit sal werk,” vertel Armand van Rensburg, `n eerstejaar Ingenieurswese student. Te danke aan `n meer oopkop samelewing is daar deesdae glad nie meer dieselfde druk op paartjies om te trou as wat daar `n paar dekades terug was nie.

Volgens Amy Read, `n eerstejaar BCom Rekeningkunde student, wil meeste mense deesdae eers heeltemal grootword en hulle eie doelwitte bereik voor hulle hul lewens met iemand anders deel. In vandag se samelewing kraai die individu koning en baie mense sien trou as `n bedreiging vir hulle persoonlike vryheid.  “Ons het nie meer mans nodig om kinders te hê nie en dis glad nie weird vir `n vrou om alleen `n kind groot te maak nie,” beweer `n tweedejaar LLB student wat verkies om anoniem te bly.

Tog is daar steeds die sewejarige dogtertjie wat droom van haar groot dag terwyl sy Barbie en Ken se huwelik op die mat in haar kamer laat bevestig deur `n teddiebeer. “Mense trou nog, hulle doen dit net later in hulle lewe as wat hulle ouers dit gedoen het,” sê André Combrink, `n eerstejaar BA student. Twintig jaar gelede was dit nie ongewoon om al in jou tweedejaar verloof te wees nie, maar deesdae wil meeste jongmense nie trou voor hulle ten minste vyf-en-twintig is nie. Om vandag te dink dat jy uit die koshuis na jou eerste huis as `n getroude man of vrou moet gaan, sal baie studente hulle kursus sommer met vyf jaar laat verleng. “Ek sal eendag trou, maar dit gaan nie die tradisionele kerktroue wees nie … ons sal dit meer persoonlik en interessant maak,” vertel Werner Ernest, `n tweedejaar BSc student. Daar is vandag meer as genoeg maniere om jou spesiale dag onkonvensioneel te maak.Van `n kameelrit deur die woestyn tot `n onderwaterseremonie – die opsies is soveel soos jou verbeelding toelaat.

“Ek sal defnitief trou, dit maak dinge official, gee mens ondersteuning in moeilike tye en dis deel van my geloof,” vertel Jandri Webber, `n eerstejaar BCom student.

Miskien is daar nogsteeds plek vir trou in die moderne samelewing en dalk selfs `n beter plek, omdat daar minder druk op jongmense is om te trou. Wat baie duidelik is, is dat studente wil wag totdat hulle reg voel om te trou, al beteken dit hulle moet in die paadjie afloop met `n loopraam in plaas van saam met hul pa’s.

Illustrasie: Ezelle van der Heever

Website | view posts