LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN
Die Kyalami resiesbaan in Midrand vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar en Jeremy Clarkson, Richard Hammond en James May van Top Gear-faam gaan die aanbieders wees van die feesvieringe. Hierdie drie gaan vir die eerste keer as `n trio op Suid-Afrikaanse turf optree, en die Stig word óók nie tuis gelos nie. Daar kan geen beter feesaanbieding wees as hierdie alombekende Britte saam by die Kyalami nie. Maak gereed vir die Top Gear Festival wat plaasvind van 17 tot 20 Maart.
Volgens www.topgearfestival.com sal dit die grootste motorfees wees wat Suid-Afrika tot nou getref het. Selfs die vorige Top Gear-byeenkomste in Suid-Afrika sal nie kers kan vashou by hierdie nuwe fees nie. `n Buitelugvertoning is beplan om dit meer indrukwekkend en toeganklik vir die verwagte massas te maak.
“Dit [Kyalami] is die voor die hand liggendste plek vir Top Gear om `n fees te hou waar die hele Kyalami oorgeneem sal word en die grootste ding gedoen sal word sedert die Formule 1 sirkus uit die stad uitgerol het”, het Clarkson in `n onderhoud aan 5FM DJ, Sasha Martinengo, gesê. Clarkson meen verder Kyalami is so indrukwekkend dat die Formule 1 gerus weer daar aangebied moet word.
Hierdie fees gaan verskeie nuwighede oplewer wat aan die publiek die geleentheid sal bied om meer aktief deel te wees van Top Gear. Spoed- en motorgeesdriftiges gaan vermaak word met drag-racing, waagtoertjies, kragtoetse, drifting, off-roading en selfs `n stunt-opleiding minikursus wat aangebied gaan word. Feesgangers kan selfs die Stig se rondtetyd probeer verbeter by die Kart Racing-baan.
Verder kan lede van die publiek enige motor van hulle keuse in `n kompetisie vir die vinnigste rondetyd om Kyalami inskryf. Daar sal 120 motors uit die inskrywings gekies word wat dan teen mekaar sal meeding. Die uiteindelike wenner sal op die vierde dag die geleentheid kry om rondom die baan te pronk in sy of haar “lap of honour”. Motorfietsgeesdriftiges kan hulle ook vir hope testostoroon-gelaaide pret regmaak. Daar sal `n area wees waar motorfietse uitgestal word en toertjies te sien sal wees.
Naas al die adrenalien-gedrewe aktiwiteite kan feesgangers `n massiewe optog van allerlei spogmotors uit verskillende eras verwag. James May het in `n onderhoud aan IOL-Nuus gesê dat daar `n “ongelooflike besetting van geskiedkundige en ongewone motors” ten toon gestel sal word. Motors soos die Aston Martin V12 Vantage, Ferrari 533 GTO, Lamborghini Gallardo Superleggera en Rolls Ghost sal te sien wees.
Buiten Clarkson, Hammond en May, sal feesgangers ook Suid-Afrika se eie (en enigste) Formule 1-kampioen uit die 70s, Jody Scheckter, te sien kry. Scheckter sal sy persoonlike versameling van F1-motors by die fees ten toon stel. Een van die ongewone gaste wat by die fees te sien sal wees is die bekende dromspeler van Pink Floyd, Nick Mason.
Kaartjies (wat parkering insluit) is by Computicket beskikbaar. Jy kan uit die brons, silwer, goud en platinum kategorieë kies. Die pryse wissel van R250 tot R875 per kaartjie. Elke kaartjie het sekere eksklusiewe voordele aan die betrokke kategorie gekoppel. Maak dus seker oor die voordele voordat jy `n kaartjie koop. Besoek www.topgearfestival.co.za vir skedules en programme.
Beeld: www.g66.co.uk