AMY-MAE CAMPBELL
Taaibos en Jasmyn het op Saterdag 12 Mei `n pretdag by die Mmamotse Laerskool in Temba Hammanskraal gereël. Die pretdag vorm deel van `n langtermyn joolprojek by die skool wat op Saterdag afgesluit is.
Die doel was om fondse in te samel en aan die skool te skenk, sodat sekere opknappings in die toekoms gemaak kan word. Leerlinge van die skool asook gemeenskapslede het die geleentheid bygewoon. Hulle kon deelneem aan sportaktiwiteite en `n danskompetisie en daar was ook attraksies soos springkastele. Toegangsfooie is vir die pretdag gehef.
Die Jasmyn en Taaibos joolraad en ander koshuisvrywilligers besoek die skool sedert 2008 elke jaar en het al verskeie take aangepak en voltooi. `n Groentetuin is op die skoolgronde geplant, badkamers is opgeknap en `n klim-en-klouterraam is vir die speelterrein gebou.
Met die pretdag se fondse beoog die joolraad om nette vir die sokkervelde aan te skaf, sowel as om netbalpale vir die sportterrein op te rig, verduidelik Erwyn Durman, Taaibos se Jool HK.
Die skoolhoof, me. MP Mooke, het kommentaar oor die projek gelewer en gesê dat die besoeke die kinders aan universiteitstudente blootstel, wat die kinders bewus maak van die geleenthede wat na skool beskikbaar is en hulle motiveer om hard te werk.
Volgens Durman het hulle hard gewerk om die pretdag te finansier. `n Lootjietrek kompetisie is gehou en Tiger Brands is genader om lekkernye te skenk. Elke koshuislid kon ook help deur geld vanuit hulle studenterekening te skenk. TuksRes het gehelp met die administrasie van hierdie proses.
“Die geleentheid om te gee na ander uit te reik, is die beste gevoel wat daar is. Ek dink ek kan namens Jasmyn en Taaibos sê dat dit `n groot sukses was,” het Elzeri Lombard, Jasmyn se Jool HK, gesê.
Alhoewel die langtermynprojek voltooi is, gaan die joolraad steeds na die skool uitreik, het Durman gesê.
Kyk na meer foto’s van die pretdag by Perdeby7412b.
Foto verskaf