LOURENSA ECKARD

Nie net is die Spar Women’s Challenge die mooiste wedloop in Suid Afrika nie, maar hierdie jaar was dit ook die grootste. ‘n Pienk golf het Saterdagmiddag deur die strate van Pretoria gespoel toe 24 000 mense by SuperSport Park weggespring het.

Al die resies het om 14:00 begin en die meeste mense het die 5km-staproete gedoen. Die 10km-roete het ook talle deelnemers gelok wat na ‘n goeie uitdaging gesoek het. Die waterpunte langs die roetes was beman deur jong mans wat slegs langbroeke en strikdasse aangehad het.

Die resies het die deelnemers deur pragtige woonbuurte geneem en die organiseerders het uitstekende werk gedoen met padblokkades om te verseker dat almal veilig by die eindbestemming kom.

“Die roete was pragtig en ek is verstom oor hoe die wedloop net elke jaar groter word,” meen Charlene Uys, ‘n drawwer van Pretoria wat al drie keer aan die Spar Challenge deelgeneem het. “Dit is altyd so goed georganiseerd en dit is net ‘n plesier om deel te neem.”

Alhoewel die wedloop hoofsaaklik vir vrouens is, neem daar elke jaar ook duisende mans deel. Die enigste voorwaarde is dat hulle moet aantrek soos vrouens. Die gevolg is baie pruike, kort rokkies en sykouse. Daar was selfs hierdie jaar ‘n groep mans wat soos nonne aangetrek het.

Irvette Van Blerk het die 10km afdeling gewen met ‘n tyd van 34 minute. Kurt Darren het die skare toegesing soos hulle die stadion binnegekom het. Ander bekendes soos Elana Afrika en Liezel van der Westhuizen van Jacaranda 94.2 was ook daar om die skare te vermaak. Daar is hope pryse weggegee en elke deelnemer het ‘n “goody-bag” van Spar ontvang.

Hierdie jaar se Spar Women’s Challenge was ‘n reuse sukses en dit het die Two Oceans verbygesteek as Suid-Afrika se grootste padwedloop. Elke deelnemer wat die eindstreep oorgesteek het, het ‘n glimlag op hul gesig gehad. Dit is pret vir die hele gesin, so as jy nie hierdie jaar die Spar Challenge kon doen nie, is daar altyd volgende jaar. Moet dit nie misloop nie.

Website | view posts