LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN
Straatligkinders en Glaskas se musikale genialiteit saamgesmelt in een? Die produk heet nie Glaskinders of Straatkas nie, maar Dans Dans Lisa, Die Gids Vir Grootword. Bouwer Bosch (Straatligkinders) en Deon Meiring (Glaskas) volg in die voetspore van ander supergroepe soos Audioslave en Velvet Revolver deur hulle musiektalent saam te snoer met hierdie nuwe projek.
Straatligkinders en Glaskas het afsonderlik reeds fenomenale sukses in die Afrikaanse musiekbedryf bereik. Dit kan vir kunstenaars soms moeilik wees om steeds hulle eie identiteit te behou, sou `n saamsmeltprojek soos hierdie groot hoogtes bereik, maar dit behoort nie `n probleem vir hierdie twee te wees nie.
`n Mens sou dink dat Die Gids Vir Grootword jou aan die musiek van Straatligkinders of Glaskas sal herinner, maar die album is regdeur, vanaf die omslag tot by die musiekstyl, absoluut uniek. Die invloede van Dashboard Confessional, Box Car Racer en Wrestlerish word beslis in die klank en styl opgemerk.
Die Gids Vir Grootword is onlangs uitgereik en aanhangers word dus nou die geleentheid gebied om beide kunstenaars in `n heel nuwe genre te ervaar. Eiesoortige akoestiese- en perkussieklanke is wat Die Gids Vir Grootword beloof. Hierdie 11-snit album sluit `n remix van hul eerste treffer “My Ek(skuus)” in, wat saam met die manne van Ekhouvanjou, okay! gemaak is. Hierdie remix laat die voete jeuk met sy disko-dans ondertone en dit behoort hordes na die dansvloer toe te lok.
Louis van Rensburg se bekende “Voshaarnooi” is ook op die album te hoor en word uitstekend uitgevoer. In “Sing in Skaamte” – wat onlangs die MK-toekenning vir beste kampus treffer. gewen het – kan Bosch se kenmerklike sangstem duidelik gehoor word.
Dit is moeilik om fout te vind met hierdie album. Die Gids Vir Grootword se lirieke is boeiend en word aangevul deur Bouwer se rasperstem saam met Deon se harmonieuse klanke wat die sang komplimenteer. Dit is eintlik `n vreemde kombinasie, maar dit werk baie goed saam. Die album vloei gemaklik van snit tot snit, alhoewel die drang daar is om vinnig deur die liedjies te gaan om net weer by `n persoonlike gunsteling uit te kom.
Hierdie album kan aanhoudend oor luidsprekers uitgeblêr word op `n luilekker dag, gespeel word by `n gesellige kuier, of selfs sommer oor jou oorfone terwyl jy op kampus rondwaggel. Die album se titel en lirieke pas hand in hand bymekaar en kan beslis as `n gids vir grootword gesien word, want dit dek die liefde, saamkuier, probleme en `n rits ander dinge waarmee die jeug van vandag kan vereenselwig. Die Gids Vir Grootword se liedjies sal beslis deel word van jou lewe en elke liedjie sal op een of ander tyd relevant “joune” kan wees.
Afrikaanse akoestiese musiek op sy beste.
Beeld: bp.blogspot.com